Head en Sharma laat die koppe draai

Travis Head en Abishek Sharma het binne tien boulbeurte 166 lopies aangeteken. (Foto: Noah Seelam/AFP)

Dit lyk nie of enige wenteiken buite die bereik van die Sunrisers Hyderabad is nie; veral nie wanneer Travis Head en Abishek Sharma vir die perfekte aanloop tot die span se lopiejaagtog sorg nie.

Dié twee hotklou-kolwers het Woensdagaand die hemelruim bó die Rajiv Ghandi-stadion in Hyderabad met ʼn kaleidoskoop van grenshoue ingekleur.

Head en Sharma het die verlangde 166 lopies vir ʼn Sunrisers-oorwinning in net 58 balle geslaan. Hul vennootskap van 167/0 in 9,4 boulbeurte is die meeste lopies wat nóg in die eerste tien boulbeurte van ʼn T20-wedstryd aangeteken is.

Hul sesslaanvaardighede het selfs vir Sachin Tendulkar beïndruk.

“As die Sunrisers eerste gekolf het, sou hulle 300 lopies aangeteken het,” het die Indiese kolflegende op X gedeel.

Head het uiteindelik 89 lopies van slegs 30 balle gemoker, terwyl Sharma 75 van 28 aflewerings geslaan het.

Van hul grenshoue was doodeenvoudig merkwaardig: Head het onder meer op die agtervoet ʼn ses oor die bouler se kop geslaan.

“Ek weet nie eintlik mooi wat om te sê nie,” het KL Rahul ná afloop van die wedstryd gesê. Die stomme Super Giants-kaptein het ongetwyfeld aan bomskok gely.

“Dit was ongelooflik. Ek kan nie beskryf hoe suiwer hulle die bal geslaan het nie; dit het gelyk of elke liewe aflewering die middel van hul kolwe getref het. Selfs al het ons 250 lopies aangeteken, sou dit nie genoeg gewees het nie.”

Volgens Pat Cummins word daar nie veel tyd aan wedstrydplanne bestee wanneer Head en Sharma kolf nie.

“Hulle moet net speel en hulself nie te veel aan ander goed steur nie. Hul vertonings verras my glad nie meer nie,” het die Sunrisers-kaptein gesê.

  • Opsomming van die telkaart:

Lucknow Super Giants 165/4 in 20 boulbeurte: Ayush Badoni 55*, Nicholas Pooran 48* en Bhuvneshwar Kumar 2/12.

Sunrisers Hyderabad 167/0 in 9,4 boulbeurte: Travis Head 89* en Abishek Sharma 75*.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.