Head verloor nie kop op Oval

Australië se Travis Head. (Foto: Twitter/ICC)

Rohit Sharma sit seker met sy hande in sy hare.

Want nadat hy die loot gewen en Australië ingestuur het om eerste op die Oval te kolf, het die taktiek om Travis Head met opslagballe te bombardeer lelik geboemerang.

Teen uitskeityd het Head 146 onoorwonne lopies agter sy naam gehad en sy span 327/3 op die telbord.

Ja-nee, só ʼn aanloop tot die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap behoort vir die Aussies ʼn welkome verskoning te gee om ʼn spontane barbeque te hou.

Tog het dit aanvanklik gelyk of Sharma se besluit die regte een was.

Mohammed Siraj het Usman Khawaja vir ʼn nulletjie uitgeknikker, terwyl David Warner (43) en Marnus Labuschagne binne 25 boulbeurte die pad terug na die kleedkamer moes aanpak.

Maar daarna was dit eenrigtingverkeer met Head en Steven Smith (95*) wat ʼn vennootskap van 251 lopies om die vierde paaltjie geniet.

Boonop kan Cameron Green en Alex Carey ook nog hul wilgerlatvaardighede vir die Aussies uitstal.

“Ons het besonder goed gevaar, veral as jy in ag neem dat ons die loot verloor het. Die bal beweeg egter steeds lekker rond en ons sal beslis op hierdie grondslag moet voortbou,” het Head gesê.

  • Opsomming van telkaart:

Australië 327/3 in 85 boulbeurte: Travis Head 146*, Steven Smith 95* en Shardul Thakur 1/75.

  • Spanne:

Australië: David Warner, Usman Khawaja, Marnus Labuschagne, Steven Smith, Travis Head, Cameron Green, Alex Carey, Mitchell Starc, Pat Cummins (kaptein), Nathan Lyon en Scott Boland.

Indië: Rohit Sharma (kaptein), Shubman Gill, Cheteshwar Pujara, Virat Kohli, Ajinkya Rahane, Srikar Bharat, Ravindra Jadeja, Shardul Thakur, Umesh Yadav, Mohammed Shami en Mohammed Siraj.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.