Immergroen Imran ʼn ikoon

Die 44-jarige Imran Tahir is steeds ’n treffer op die internasionale krieketverhoog. (Foto: Twitter/Guyana Amazon Warriors)

Hy is dalk 44 jaar oud, maar Imran Tahir is nog ver van koud op ʼn krieketveld. Die voormalige Protea-draaier het ʼn sleutelrol in sy span in die pasvoltooide Karibiese Premierliga (CPL) gespeel.

Tahir het die kapteinskapleisels van die Guyana Amazon Warriors vasgevat en hy het saam met ʼn skitterende Dwaine Pretorius toegesien dat sy span die silwerware omhoog gehou het.

Die Warriors het die Trinbago Knight Riders met nege paaltjies in ʼn eensydige eindstryd geklop met die twee Suid-Afrikaners wat saam ses paaltjies in die kragmeting laat spat het.

Die bybreekbouler het die paaltjies van die gevaarlike Andre Russell en Dwayne Bravo geneem om met ʼn boulontleding van 2/8 te spog.

Sodoende het hy die oudste kaptein nóg geword om aan die stuur van ʼn seëvierende T20-span te staan. Die rekord het eers agter MS Dhoni se naam gestaan wat op 41-jarige ouderdom die IPL-titel saam met die Chennai Super Kings beklink het.

“Dit was ʼn wonderlike ervaring om vir Guyana en sy ondersteuners te speel. In die aanloop tot die toernooi het baie mense grappies gemaak toe ek as die kaptein aangewys is; ek wil eintlik vir hulle dankie sê want hul kommentaar het my aangemoedig om beter te speel,” het Tahir gesê.

Hy het 18 paaltjies in 12 wedstryde teen ʼn gemiddeld van 15,44 geneem, terwyl hy slegs ses lopies per boulbeurt afgestaan het.

Volgens oorlewering het Tahir destyds tydens ʼn klubkrieketwedstryd in Engeland só aan’t hol gegaan tydens sy gebruiklike paaltjiefeesviering dat hy skoon oor die grens gehardloop en ʼn bietjie in die Britse strate verdwaal het.

Sy spanmaats het ʼn soektog van stapel gestuur en die ietwat verdwaasde bouler is terug na die kolfblad begelei.

Meer as 50 spanne, 107 eendagwedstryde vir die Proteas en 391 T20-kragmetings (oor die hele wêreld) later, en die immergroen Tahir se passie en amperse kinderjolyt wanneer hy ʼn paaltjie neem, is so te sê onveranderd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.