Is dit vanjaar skeepsreg vir Proteas?

Gaan die Proteas hierdie keer ‘n trofee omhoog hou, of gaan dit weer in hartseer eindig? (Foto: Proteas Men/X)

Kopsterkte en ʼn skeutjie geluk kan vanjaar ʼn groot rol in die welslae van die Suid-Afrikaanse T20-krieketspan in die komende T20-Wêreldbekertoernooi in die VSA en die Karibiese Eilande speel.

Statistieke lieg nie, sê hulle in sport, maar dit vertel ook nie altyd die volle verhaal nie.

Hoe kan die Springbokke die Wêreldbeker-rugbytoernooi reeds drie keer in agt probeerslae gewen het, maar nie die krieketspan nie?

Dalk is dit vanjaar skeepsreg om die eerste keer ʼn Wêreldbeker-kriekettrofee te lig … of gaan dit weer ʼn hartseer verhaal wees?

In 16 Wêreldbeker-kriekettoernooie (agt in eendagkrieket en agt in T20-krieket) kon die Proteas nog nie een keer ʼn trofee omhoog hou nie.

Inteendeel, die span kon nog nie een keer in ʼn eindstryd speel nie en het reeds sewe keer (twee keer in eendagkrieket en vyf keer in T20-toernooie) in die halfeindronde vasgeval.

Daar rus ʼn amperse vloek op die span wanneer dit by belangrike toernooie kom, soos ʼn uithardloop van die laaste bal af, die Duckworth-Lewis-formule wat verkeerd gelees is, ʼn belangrike en maklike vangkans wat verbrou word of ʼn nederlaag teen die onbesonge Nederland.

Hoekom gebeur dit dat ʼn span wat die beste kolwers in wêreldkrieket gehad het, soos AB de Villiers, Faf du Plessis, Jacques Kallis, Herschelle Gibbs, JP Duminy, Graeme Smith en Hashim Amla, nie die verloordroogte kon breek nie?

Hoekom was die toernooie bitter vir skitterende boulers soos Dale Steyn, Allan Donald, Shaun Pollock, Morné Morkel en Kagiso Rabada?

Daar was voorheen kopdokters en motiveerders om die span geestelik sterk te kry en die span spog met sommige van die beste afrigters in wêreldkrieket, maar iets haper steeds.

Vanjaar se span is op papier een van die gedugste, indien nie dié gedugste nie, in T20-krieket.

Quinton de Kock (2 277 lopies) is die SA kolwer met die meeste lopies in T20-krieket, gevolg deur David Miller tweede met 2 227 lopies.

Reeza Hendricks is die derde voorste lopiemaker (1 702), gevolg deur Aiden Markram in die agtste plek (1 118) en Heinrich Klaasen met 722 lopies.

Hoekom kry hulle dit dan nie reg om saam in een wedstryd ʼn wentelling aan te teken nie?

Aan die boulkant kan Anrich Nortjé, Rabada, Marco Jansen, Gerald Coetzee en Ottniel Baartman saam met die twee draaiboulers Keshav Maharaj en Tabrais Shamzi die fort hou.

Die boulers kan dalk nie heeltemal kers vashou by die kolwers nie, want afgesien van Shamsi se eerste plek as die voorste paaltjienemer (78), is Rabada (58) sesde op die lys van voorste boulers en Nortjé met 48 paaltjies negende.

Jansen en Coetzee is ook nog daar.

Vanjaar se WB-toernooie bestaan uit vier groepe van vyf spanne elk, met die twee topspanne in elke groep wat tot die Superagt-fase sal deurdring.

Suid-Afrika speel in Groep D saam met Sri Lanka, Bangladesj, Nederland en Nepal.

Suid-Afrika se eerste drie wedstryde teen Sri Lanka, Bangladesj en Nederland word almal in New York gespeel, waar ʼn nuwe krieketstadion in aanbou is en die blaaie glo ʼn goeie tweestryd tussen kolf en bal sal verseker.

Dan skuif die span vir sy vierde wedstryd na St. Vincent op die Wes-Indiese Eilande, waar die oorblywende wedstryde op verskeie eilande beslis word.

Groep A: Indië, Pakistan, Amerika, Kanada en Ierland.

Groep B: Engeland, Australië, Namibië, Skotland en Oman.

Groep C: Wes-Indiese Eilande, Nieu-Seeland, Afghanistan, Uganda en Papoea-Nieu-Guinee.

Groep D: Suid-Afrika, Sri Lanka, Bangladesj, Nederland, Nepal.

SA se T20-span: Aiden Markram (k), Ottniel Baartman, Gerald Coetzee, Quinton de Kock, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, David Miller, Anrich Nortjé, Kagiso Rabada, Ryan Rickelton, Tabraiz Shamsi, Tristan Stubbs.

Reisende reserwes: Nandré Burger en Lungi Ngidi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.