Kiwi’s klop Proteas ondanks Kapp se 72 lopies

Marizanne Kapp tydens ‘n vorige wedstryd in Christchurch, Nieu-Seeland (Foto: Sanka Vidanagama / AFP)

Marizanne Kapp het Sondag op Kingsmead in Durban weer haar waarde as Suid-Afrika se beste veelsydige vrouekrieketspeler in die derde eendagwedstryd teen Nieu-Seeland onderstreep, maar dié keer kon sy nie haar spanmaats oor die wenstreep kry nie.

Die Proteas het nietemin die reeks met 2 – 1 gewen, hoewel die Kiwi’s die derde verkorte wedstryd weens reën met ses paaltjies gewen het.

Suid-Afrika het die eerste kragmeting in Pietermaritzburg met vier paaltjies gewen en dit met ʼn sege van sewe paaltjies opgevolg.

Kapp het Sondag met 72 lopies (73 balle, 7×4) die ankerrol in die Proteas se kolfbeurt in 44,3 boulbeurte gespeel, maar afgesien van Chloe Tryon (25) en Laura Wolvaardt (24) kon die Proteas Sondag net by 209 lopies uitkom.

Nieu-Seeland, danksy Amelia Kerr se skitterbeurt van 100* en Brooke Halliday met 37*, het die teiken (210/6) met ses balle oor verbygesteek.

Kerr het 113 balle ontvang en 13 viere gemoker.

Kapp, wat kolfbeurte van 27 en 45* in die eerste twee eendagwedstryde aangeteken het, het haar 12de vyftigtal aangeteken.

Die tuisspan was op 67/4 in die 18de boulbeurt in die knyp met die aanvangskolwer Tazmin Brits (12), Anneke Bosch (7), Suné Luus (5) en Wolvaardt (24) almal terug in die pawiljoen.

Maar Kapp en Tryon (25) het Suid-Afrika se kolfbeurt weer op koers gekry met 58 lopies om die vyfde paaltjie.

Kapp is nou met 2 661 lopies die huidige nasionale span se tweede voorste lopiemaker in eendagkrieket.

Sy het in 135 wedstryde (83 kolfbeurte) gespeel en spog met ʼn kolfgemiddeld van 32,.45 lopies per beurt.

Sy het Sondag net drie boulbeurte in Nieu-Seeland se kolfbeurt afgestuur voordat sy die veld met ʼn ongesteldheid verlaat het.

Dit het die boulaanval onkant betrap, want Masabata Klaas (1/51), Nonkuleleko Mlaba (2/41) en Tryon (in haar 100ste eendagwedstryd) het deurgeloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.