Kiwi’s se Kerr en Devine knak Proteas

Suné Luus in aksie vir die Proteas. Foto: Marco Longari/AFP.

Die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan moes nooit gister in Benoni die vierde T20-wedstryd in die reeks van vyf teen Nieu-Seeland verloor het nie.

Nadat nie een van die eerste drie wedstryde in Oos-Londen ʼn uitslag kon oplewer nie weens deurdringende reën en ʼn onspeelbare buiteveld op Buffalo Park, was die tafel gedek vir die laaste twee wedstryde in Benoni.

Nadat Nieu-Seeland Saterdag se vierde wedstryd met agt paaltjies gewen het, loop hulle met 1 – 0 in die reeks voor en kan hulle dus nie meer die reeks verloor nie, met net Sondag se laaste kragmeting oor.

Die Proteas, danksy nog ʼn vyftigtal deur die meesterlike Laura Wolfaardt, Sune Luus en Anneke Bosch, het die grondslag vir ʼn sege in die Proteas se kolfbeurt gelê, maar die sakkie was nie toegeknoop nie.

Wolfaardt met 53 (44 balle, 8×4), Luus met 45 (30 balle, 7×4) en Bosch met 32, het die Proteas by 172/4 in 20 boulbeurte laat uitkom.

Op die oog af was dit ʼn wentelling, maar bottervingers en swak grondveldwerk, asook ʼn effens lustelose boulaanval, het die deur vir Nieu-Seeland oopgelaat.

Die Kiwi’s het die wentelling van 174/2 in 18.5 boulbeurte aangeteken met Amelia Kerr met 70 lopies (46 balle, 9×4) en die veteraan-kaptein Sophie Devine met 61 (37 balle, 5×4, 3×6) wat die Proteas se boulwerk aan die gorrel geruk het.

Kerr en Devine het op 32/2 saam begin kolf en vir ʼn vennootskap van 135 lopies gesorg.

Bygesê, die Proteas se boulaanval was uitgedun omdat Marizanne Kapp nie beskikbaar was nie en Masabata Klaas haar ná ʼn ongesteldheid onttrek het.

Dit was veral Tumi Sekhukhune (0/46), Chloe Tryon (0/34) en Nadine de Klerk (0/32) wat onder Kerr en Devine se breë kolwe deurgeloop het.

Vir die Kerr-gesin in Nieu-Seeland was dit ʼn heuglike dag, want vroeër het Amelia Kerr se ouer suster, Jess Kerr, 2/41 in Suid-Afrika se beurt geneem.

Die Kerr-sussies se pa Robbie en hul ma, Jo, het albei vir Wellington krieket gespeel. Hul oupa Bruce Murray het vir Nieu-Seeland krieket gespeel en hul niggie Cilla Duncan speel vir Nieu-Seelandse vrouesokkerspan.

Amelia Kerr, wat Vrydag 23 jaar oud geword het, het as 16-jarige reeds haar buiging gemaak en in 2018 het sy 232* lopies in ʼn eendagwedstryd teen Ierland aangeteken, die meeste nog deur ʼn Nieu-Seelandse vrouekolwer.

Saterdag het die Proteas behoorlik met haar borrelende kolftalent kennis gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.