Knieë nié tydens eerste IPL-wedstryd gebuig

Die Indiese Premierliga. Foto: Twitter.

In die openingswedstryd van die Indiese Premierliga (IPL) is die knie nie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging gebuig nie. ’n Oomblik van stilte is wel vir diegene gehou wat die Covid-19-pandemie in die voorste linies beveg.

Die Chennai Super Kings het die Mumbai Indians met vyf paaltjies in Abu Dhabi geklop.

Volgens die Mumbai Mirror het die Indiese krieketraad (die BCCI) nog nie amptelike kommentaar rakende die BLM-beweging gelewer nie.

Die publikasie het vroeër vandeesweek berig dat die onderskeie IPL-spanne nog die aangeleentheid onder mekaar moes bespreek het, terwyl ’n spanbeampte gesê dat BLM nie ’n algemene onderwerp in Indië is nie.

Vroeër was die 66-jarige Wes-Indiese legende Michael Holding ongelukkig oor die feit dat Engeland en Australië se krieketspanne nie die knie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging tydens die afgelope T20-reeks gebuig het nie.

“Reg oor die wêreld was dit nie meer ’n kwessie van swart teen wit nie, maar eerder ’n geleentheid vir die mensdom om saam te kom en te besef dat almal gelyk behandel moet word,” het Holding gesê.

Volgens Holding kan hy egter nie vir die BCCI voorskryf hoe die organisasie BLM moet hanteer nie.

Aaron Finch, Australië se kaptein, het destyds gesê dat opvoeding rakende die kwessie belangriker as protes is, terwyl hy trots is om ’n sportsoort te beoefen wat oor die wêreld heen deur enigiemand gespeel kan word; ongeag van ’n persoon se ras, geloof of nasionaliteit.

Justin Langer, Aussie-afrigter, het egter ná Holding se kritiek gesê dat sy span dalk meer aandag aan die saak moes gegee het, maar dat hulle ook na maniere soek om ’n volgehoue veldtog teen rassisme van stapel te stuur.

In ’n onderhoud met The New Indian Express het Suid-Afrika se Kagiso Rabada gesê dat Black Lives Matter vir hom belangrik is.

“Vir my is Black Lives Matter belangrik. So eenvoudig soos dit. Dit het nie noodwendig iets met sport, politiek of iets anders uit te waai nie. Ek glo dat opvoeding ’n belangrike rol speel om mense se ingesteldheid te verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

koos10 ·

Nou Nhati, gaan jy van KSA ook eis om te verduidelik hoekom???

Die Wolf ·

Nou wonder ek wat die Suid afrikaners in die span gedoen het? Miskien gaan sit?

Andrew ·

Holding “laat almal gelyk behandel word”, maar tjoep stil oor kwotas.
Solank swart 50% , 30% bruin, asiers 10%, 10% wit vroue en others, en wit mans by voorbaat minus 20%, is daar diskriminasie want hoe kan wit mans n minus voor hê. Brand sommer summier die see af want wit mans het die wêreld verslaaf deur die see te gebruik.

Andrew ·

En asof Indie nie hulle eie koloniale geskiedenis het nie moet Indie nou ook die knieg voor die magtige marxistiese blm beweeging buig haha, wat n grap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.