‘Maak ons trots’ – Ramaphosa

Die Proteas speel môre om 15:00 in die T20-Wêreldbekereindstryd teen Australië. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Pres. Cyril Ramaphosa het die Protea-vrouekrieketspan sterkte toegewens vir môre se T20-Wêreldbekereindstryd teen Australië in Kaapstad.

Suné Luus se span het op sensasionele wyse vir Engeland in die halfeindstryd uitgeskakel toe hulle die wedstryd met ses lopies op die einste Nuweland beklink het.

Die Suid-Afrikaanse president het die Proteas én die Aussies met hul onderskeie veldtogte gelukgewens, maar hy het ongetwyfeld ʼn sagte plekke vir Suné Luus se span.

“Ons sien natuurlik daarna uit om die silwerware in die Proteas se vertoonkas te sien. Maak ons trots!” het Ramaphosa getwiet.

Dit gaan egter gʼn maklike taak wees nie – dit is die Proteas se eerste buiging in ʼn Wêreldbeker-eindstryd, terwyl Australië al vyf van die afgelope sewe T20-toernooie gewen het.

Daarbenewens het die Aussies ook in die groepfase met die Suid-Afrikaners afgereken toe Tahlia McGrath en Ashleigh Gardner se vennootskap die wind uit die Protea-seile gehaal het.

McGrath slaan juis haar lopies teen ʼn treftempo van meer as 160, terwyl Meg Lanning en Alyssa Healy onder die beste spelers ter wêreld tel.

Tog het Laura Wolvaardt in die afgelope twee wedstryde haar stempel dubbel en dwars op die toernooi afgedruk en sy vorm ʼn gedugte kolfwerkkombinasie met Tazmin Brits.

Dan het die Proteas ʼn sterk boulaanval met Ayabonga Khaka, Marizanne Kapp en Shabnim Ismail wat gereeld vir hoofbrekens sorg.

Dit gaan deksels moeilik wees, maar daardie trofee kan dalk net staanplek in Suid-Afrika kry.

Die aksie begin Sondag om 15:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Topkolwers:

Australië:

  1. Meg Lanning: 149 lopies teen ʼn gemiddeld van 69,50 en ʼn treftempo van 115,83
  2. Alyssa Healy: 171 lopies teen ʼn gemiddeld van 57 en ʼn treftempo van 119,58
  3. Ashleigh Gardner: 81 lopies teen ʼn gemiddeld van 40,50 en ʼn treftempo van 114,08

Suid-Afrika:

  1. Tazmin Brits: 176 lopies teen ʼn gemiddeld van 44 en ʼn treftempo van 108,64
  2. Laura Wolvaardt: 169 lopies teen ʼn gemiddeld van 42,25 en ʼn treftempo van 100,59
  3. Nadine de Klerk: 49 lopies teen ʼn gemiddeld van 24,50 en ʼn treftempo van 94,23
  • Topboulers:

Australië:

  1. Ashleigh Gardner: nege paaltjies teen ʼn gemiddeld van 11,66
  2. Megan Schutt: nege paaltjies teen ʼn gemiddeld van 12,44
  3. Georgia Wareham: ses paaltjies teen ʼn gemiddeld van 14,50

Suid-Afrika:

  1. Ayabonga Khaka: sewe paaltjies teen ʼn gemiddeld van 11,42
  2. Marizanne Kapp: sewe paaltjies teen ʼn gemiddeld van 14,85
  3. Shabnim Ismail: ses paaltjies teen ʼn gemiddeld van 17,16.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.