Markram trots op Proteas se ‘Oscar’-vertoning

Rovman Powell wens Aiden Markram geluk met sy span se spogvertoning. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Volgens Aiden Markram was die Protea-kleedkamer gister heel vrolik en optimisties; selfs nadat Johnson Charles se warrelwindbeurt gesorg het dat die Wes-Indiese Eilande 258/5 in hul toegelate 20 boulbeurte kon aanteken.

“Party van die ouens het geskerts dat die Windies 15 lopies te min aangeteken het! Ons het altyd geweet dat ons ʼn kans staan as Quinny [de Kock] en Reeza [Hendricks] goed begin,” het Suid-Afrika se T20-kaptein gesê.

Die twee Protea-openingskolwers het toe inderdaad soos vetgesmeerde blitse losgetrek.

De Kock het 100 lopies vanaf 44 aflewerings gemoker, terwyl Hendricks 68 lopies vanaf 28 balle geslaan het. Saam het hulle 152 lopies in minder as 11 boulbeurte om die eerste paaltjie aangeteken.

“Hulle verdien lof vir die uitstekende wyse waarop hulle ons lopiejaagtog begin het en dit het dinge beslis aansienlik makliker vir die res van ons gemaak.”

Hoewel De Kock se beurt ongetwyfeld die hoofopskrifte haal – ʼn blitsige honderdtal in die tweede beurt van ʼn T20-wedstryd verdien beslis ʼn hengse klop op die skouer – het Hendricks ook ʼn hoofrol in dié “Oscar”-vertoning op die krieketveld gespeel.

“Reeza doen dinge op sy manier. Ons praat gereeld oor ons doelwit om onverskrokke krieket te speel, maar hy het gewys dat jy nie die bal uit die stadion hoef te slaan om dit te bereik nie. Hy is pure klas en oudergewoonte was sy tydsberekening perfek.”

Volgens De Kock het sy aanvangsmaat ook ʼn spesiale boodskap vir hom gehad toe hy sy paaltjie verloor het.

“Hy het vir my gesê dat ons nou iets baie spesiaal gedoen het en dat ons trots moet wees daarop,” het die Protea-paaltjiewagter gesê.

En Suid-Afrika kan beslis trots wees op dié Protea-vertoning.

Die derde en beslissende T20-wedstryd word môre op die Wanderers gespeel. Die aksie begin om 18:00.

Van die hoogtepunte van die SuperSportpark-kragmeting:

  • Die 259 lopies wat die Proteas aangeteken het, is die hoogste suksesvolle T20-lopiejaagtog nóg.
  • Daar is altesaam 517 lopies in die wedstryd geslaan; ook ʼn rekord.
  • Die Windies en die Proteas het altesaam 81 grenshoue gemoker; insluitend 35 sesse.
  • Benewens sy honderdtal-heldedade het Quinton de Kock ook sy vyftigtal vanaf slegs 15 balle geslaan. Dit is die vinnigste nóg deur ʼn Suid-Afrikaner.
  • Johnson Charles het sy honderdtal vanaf 39 aflewerings gevier. Dit is die vierde vinnigste honderdtal op die internasionale verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.