Miller-hulle moet vandag titel verdedig

Gietende reën beteken dat die eindstryd van die Indiese Premierliga vandag beslis sal word. (Foto: Twitter/IPL)

Swaar reën en donderstorms het gister ʼn stokkie voor die Indiese Premierliga-eindstryd tussen die Gujarat Titans en die Chennai Super Kings gesteek.

Die tweestryd is afgelas en die twee spanne sal nou vandag sake om die silwerware uitspook.

Dit is die eerste keer in die 16-jarige bestaan van die gewilde mik-en-mokertoernooi dat die eindstryd op die reserwedag beslis word.

Die Titans is die verdedigende kampioenspan nadat hulle verlede jaar die Rajasthan Royals met agt paaltjies in die eindstryd getroef het.

Suid-Afrika se David Miller, wat in 2022 ʼn barshou vir Gujarat gespeel het, is weer deel van die aksie.

David Miller spog met die silwerware. *Foto: Twitter.(

Die linkshandige Protea-kolwer kon egter vanjaar nie heeltemal op sy heldedade van verlede jaar voortbou nie en hy het 259 lopies teen ʼn gemiddeld van 32 en ʼn treftempo van 145 aangeteken.

Hy is vir vier lopies in die eerste kwalifiserende wedstryd teen die einste Super Kings uitgehaal, terwyl hy nie ʼn kolfkans in die daaropvolgende kragmeting teen die Mumbai Indians gekry het nie.

Daarteenoor sal die Super Kings nie net poog om sy vyfde titel in te oes nie, maar ook om vir MS Dhoni ʼn goeie afskeidsgeskenk te gee.

Dit is glo die 41-jarige Dhoni se laaste wedstryd vir Chennai en benewens sy titelwenvaardighede het sy leierskap ook gesorg dat sy span na tien eindstryde deurgedring het.

Indien die weer saamspeel, sal die wedstryd vanmiddag om 16:00 begin en regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.