ʼn Afrikaanse opslagbal sal Marnus nie ontsenu

Marnus Labuschagne het meer as 500 lopies in die twee toetse teen die Wes-Indiese Eilande geslaan. Foto: Ishara S. Kodikara/AFP.

Ná sy spogbeurte van 204, 104*, 163 en 31 teen die Wes-Indiese Eilande is Marnus Labuschagne die wêreld se voorste toetskrieketkolwer.

Nou is die Proteas vierkant in die Australiese kolwer se visier. Die eerste toets tussen Australië en Suid-Afrika begin immers Saterdag in Brisbane; ʼn stad waar dié Klerksdorp-boorling sedert tienjarige ouderdom woon.

Hoewel Labuschagne reeds met ʼn eendagkriekethonderdtal teen Suid-Afrika spog, sal die Brisbane-tweestryd sy eerste toets teen sy geboorteland wees.

“As ʼn jong seun wat in Suid-Afrika grootgeword het, was Jacques Kallis, Shaun Pollock, Graeme Smith en AB de Villiers my helde gewees. Maar toe ons na Australië verhuis, het ek na spelers soos Ricky Ponting, Damien Martyn en Michael Hussey begin opkyk. Ek onthou dat ek ʼn Slazenger V900-kolf gehad het bloot omdat Michael Clarke met een gekolf het,” het Labuschagne gesê.

Labuschagne het al tien honderdtalle in sy jong loopbaan geslaan. Foto: Jeremy Ng/AFP.

Volgens die 28-jarige kolwer is sy gesin nou Aussies en hulle ondersteun die Australiese krieketspan.

“Ek glo egter dat hierdie toets baie opwindend sal wees omdat dit iets is wat my na aan die hart lê: Dit is teen die land waar ek grootgeword het en vir tien jaar van my lewe gewoon het.”

Nodeloos om te sê kan die Proteas hom met ʼn paar Afrikaanse kwinkslae so saam met die opslagballe by die kolfkampie verwelkom, maar dit skeel hom nie veel nie.

Dean Elgar het juis in die aanloop tot die Brisbane-toets gesê dat Labuschagne hom ʼn paar jaar gelede op ʼn onverwagse manier tydens ʼn graafskapwedstryd wou probeer ontsenu: “Mênus Lêebusjyn” het die Welkom-boorling se ore in Afrikaans laat tuit.

“Ek was in gr. 1, 2 en 3 in ʼn Afrikaanse skool in Potchefstroom; dus het ek nog so ʼn bietjie Afrikaanse kennis.”

Gaan hy nou weer probeer om sy Afrikaans-taalvaardighede uit te stal?

Anrich Nortjé is een van die Suid-Afrikaanse boulers wat die spoedkrane behoorlik kan oopdraai. Foto: Adrian Dennis/AFP.

“Ons sal maar moet sien. Ek is seker daarvan dat hulle met ʼn paar sêgoed vorendag sal kom en hopelik sal ek op die regte manier reageer.”

Maar volgens Mark Taylor behoort Labuschagne se flitsende kolf die gevaarligte vir die Proteas te laat flikker.

“Sy spelpeil was nie van die beste vóór die Windies-toetse nie en om die aksie as die speler van die reeks af te sluit, wys jou net waartoe hy in staat is,” het die voormalige Australiese krieketkaptein gesê.

Labuschagne se toetsrekord: 3 041 lopies ná 30 toetse teen ʼn gemiddeld van 60,82. Hy het reeds tien honderdtalle en 13 vyftigtalle gemoker en spog met ʼn hoogste telling van 215.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.