Pope skitter teen Iere op krieketheiligdom

Ollie Pope op pad terug na die kleedkamer ná sy spogbeurt op Lord’s. (Foto: Twitter/Lord’s)

Met die Reeks om die As om die draai lyk dit nie of Engeland van sy onverskrokke benadering sal afwyk nie.

Ben Stokes se span het 524/4 in 82,4 boulbeurte in die eenmalige toets teen Ierland op Lord’s aangeteken met Ollie Pope wat ongetwyfeld die kolfsepter geswaai het.

Die 25-jarige kolwer het 205 lopies van slegs 208 aflewerings gemoker en sy blitsbeurt het 25 grenshoue ingesluit.

Hy is uitstekend deur Ben Duckett (182 lopies van 178 balle) bygestaan en die twee het ʼn vennootskap van 252 lopies om die tweede paaltjie geniet.

Vroeër het Stuart Board gesorg dat sy naam weer op die ikoniese krieketveld se ererol aangebring word toe hy vyf paaltjies in Ierland se eerste beurt laat spat het.

Die Ierse besoekers het tans 271/6 in hul tweede beurt op die telbord en hulle benodig ʼn verdere 81 lopies om die Engelse weer te laat kolf.

Die eerste toets teen Australië word vanaf 16 Junie op Edgbaston beslis en ʼn veglustige Stokes het aangedui dat Engeland oudergewoonte sal probeer om sy teenstanders met grenshoue onder druk te plaas.

“Wen of verloor; ons sal op só ʼn manier speel dat nie een van die toetse in die Reeks om die As onbeslis eindig nie. Dit maak nie saak wat die telling is of hoe die situasie lyk waarin ons onsself bevind nie; ons benadering sal nie verander nie, ” het die Bleekbeen-kaptein gesê.

James Anderson is ook oortuig dat die tuisspan oor die nodige skietgoed beskik om die Aussies te laat hensop.

“As ʼn mens na ons span kyk – veral wanneer ons na die beste van ons vermoë en teen dieselfde hoë ingesteldheid speel – glo ek nie dat daar ʼn span is wat by ons kan kers vashou nie,” was die ervare snelbouler se mening.

  • Opsomming van telkaart:

Ierland 172/10 in 56,2 boulbeurte: James McCollum 36, Curtis Campher en Stuart Broad 5/51.

Engeland 524/4 in 82,4 boulbeurte: Ollie Pope 205, Ben Duckett 182 en Andy McBirne 2/99.

Ierland 271/6 in 63 boulbeurte: Harry Tector 51, Lorcan Tucker 44 en Josh Tongue 4/56.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.