Proteas skiet dié keer met sewe lopies kort

Die Proteas kon dié keer nie die wa deur die drif trek nie. Foto: Wikus de Wet/AFP.

ʼn Blitsbeurt deur Romario Shepherd en Alzarri Joseph se vyf paaltjies het gesorg dat die Wes-Indiese Eilande die beslissende T20-wedstryd teen Suid-Afrika met sewe lopies op die Wanderers gewen het.

Sodoende het die eilandmanne ook die mik-en-moker-reeks met 2-1 beklink.

Kagiso Rabada het die laaste boulbeurt van die Windies-beurt geboul en Heinrich Klaasen kon nie ʼn moeilike vangkans van die eerste aflewering benut nie.

Shepherd het daaruit munt geslaan en ʼn rits sesse geslaan om 26 lopies in dié boulbeurt aan te teken.

Skielik het Wes-Indië met ʼn imposante telling van 220/8 gespog.

Tog was die Suid-Afrikaners vol vertroue dat hulle die teiken sou kon verbysteek. Hulle speel immers op die Wanderers waar die bal lekker ver deur die lug trek, terwyl hul 259-heldedade nog baie vars in die geheue is.

Quinton de Kock is egter dié keer vir 21 lopies uitgehaal, maar Reeza Hendricks en Rilee Rossouw se flinke vennootskap het vir hope momentum gesorg.

Die twee kolwers het 80 lopies van slegs 39 aflewerings om die tweede paaltjie aangeteken en die tuisspan het beslis die teiken in die visier gehad.

Maar toe Rossouw sy paaltjie in die 11de boulbeurt verloor, het die Suid-Afrikaners begin stoom verloor.

Daarbenewens het Joseph ook dinge bemoeilik deur van Hendricks, David Miller en die gevaarlike Klaasen ontslae te raak.

Aiden Markram het weliswaar ʼn paar grenshoue van die 20ste boulbeurt gemoker, maar die Proteas het dié keer die trein verpas.

“Vir ʼn neutrale krieketliefhebber moes hierdie ʼn baie goeie krieketwedstryd gewees het om te volg. Ons het onsself egter ʼn bietjie in die voet geskiet met ons kolfwerk en ons was uiteindelik net ʼn paar lopies kort,” het Markram gesê.

Ondanks die reeksnederlaag meen die Protea-kaptein dat sy span op die regte koers is.

“Dit is nooit goed om te verloor nie, maar dit is lekker om te sien hoe die ouens vir geen uitdaging terugstaan nie.”

  • Opsomming van telkaart:

Wes-Indiese Eilande 220/8 in 20 boulbeurte: Romario Shepherd 44*, Nicholas Pooran 41 en Anrich Nortjé 2/36.

Suid-Afrika 213/6 in 20 boulbeurte: Reeza Hendricks 83, Rilee Rossouw 42 en Alzarri Joseph 5/40.

Uitslag: Windies wen die wedstryd met sewe lopies en beklink die reeks 2-1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.