Proteas wil kaalvuis onder klompedraers inklim

David Miller en Rassie van der Dussen. Foto: Jewel Samad/AFP.

Vergeet maar eers ʼn rukkie van die Indiese Premierliga (IPL); die Proteas se topspelers is beskikbaar vir die belangrike eendagkrieketwedstryde teen Nederland.

Indien die Suid-Afrikaners ʼn meer gelyke pad na die komende Wêreldbeker-toernooi in Indië wil volg, sal hulle al twee wedstryde teen die klompedraers moet wen. Terselfdertyd sal hulle ook duim vashou dat Bangladesj in Mei met Ierland afreken.

“Gegewe die belangrikheid van hierdie wedstryde om vir die Wêreldbeker-toernooi te kwalifiseer, het ons die sterkste groep spelers vir die komende kragmetings gekies,” het Rob Walter, die Proteas se witbalkrieketafrigter, gesê.

Dit sal nie die eerste keer wees dat Nederland in die Proteas se pad staan nie.

Hulle het die Suid-Afrikaners se opmars by die afgelope T20-Wêreldbeker in sy spore gestuit toe hulle ʼn maak-of-breek-wedstryd met 13 lopies in Adelaide gewen het.

Brandon Glover en sy Nederland-spanmaats vier hul geskiedkundige oorwinning teen die Proteas. Foto: Twitter.

ʼn Hele paar Suid-Afrikaans gebore spelers – onder wie Stephan Myburgh, Colin Ackermann en Roelof van der Merwe – het toe amok teen die Proteas gemaak.

Nodeloos om te sê, Walter en kie sal nou kaalvuis onder die besoekers wil inklim.

“Ons het werk om te doen en ek is seker dat hierdie spelersgroep die taak suksesvol sal voltooi.”

Aiden Markram (Sunrisers Hyderabad), Quinton de Kock (Lucknow Super Giants), Marco Jansen (Sunrisers Hyderabad), Heinrich Klaasen (Sunrisers Hyderabad), Sisanda Magala (Chennai Super Kings), David Miller (Gujarat Titans), Lungi Ngidi (Delhi Capitals), Anrich Nortjé (Delhi Capitals) en Kagiso Rabada (Punjab Kings) sal dus eers vanaf 3 April by hul IPL-spanne kan aansluit.

Miller, wat die Gujarat Titans se eerste wedstryd teen die Chennai Super Kings sal misloop, het vroeër aangedui dat sy spanbase nie té ingenome met sy afwesigheid is nie.

“Hulle was taamlik ontsteld. Dit is altyd ʼn groot storie om teen Chennai te speel, maar om die Proteas te verteenwoordig is altyd ʼn massiewe eer en voorreg. Ons het werk om te doen,” het die hotklou-kolwer gesê.

Protea-groep vir eendagwedstryde teen Nederland: Temba Bavuma (kaptein), Quinton de Kock, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Sisanda Magala, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Wayne Parnell, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi en Rassie van der Dussen.

Bepalings:

31 Maart: Nederland teen Suid-Afrika in Benoni

2 April: Nederland teen Suid-Afrika in Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.