T20-krieket: Bangladesj laat Proteas tuimel

(Foto: X/Shilaaa)

Die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan het Sondag op Willowmoorepark in Benoni die agterdeur vir Bangladesj oopgelaat om sy eerste oorwinning in ʼn T20-wedstryd in Suid-Afrika te behaal.

Bangladesj het die eerste van drie T20-wedstryde met 13 lopies gewen.

Die Proteas, wat sonder vyf van hul gereelde spelers, onder meer die kolfmasjien en kaptein, Laura Wolvaardt, en die veelsydige Marizanne Kapp en Chloe Tryon moes klaarkom, het verroes met die bal en kolf voorgekom.

Bangladesj, wat 149/3 in sy toegelate 20 boulbeurte aangeteken het, het hierna toegeslaan en die Suid-Afrikaanse kolflys tot 136/8 laat inplof.

Was dit nie vir die Proteas se twee aanvangskolwers, Anneke Bosch (67) en die instaan-kaptein Tazmin Brits (30) nie, sou die nederlaag groter gewees het.

Dit was Bosch (67 balle, 9×4, 1×6) se derde T20-vyftigtal.

Saam met Brits het hulle vir ’n aanvangsvennootskap van 66 lopies in 9.3 boulbeurte gesorg, maar hulle het nie veel ondersteuning van die res van die meestal onervare kolwers ontvang nie.

Sune Luus (18) en Delmi Tucker (16*) het probeer walgooi, maar Bangladesj se draaibalboulers het hul kloue ingeslaan.

Die Tiere se grootste held was die 16-jarige draaibalbouler Shorna Akter wat 5/28 met haar bybreke platgetrek het en as Speler van die wedstryd aangewys is.

In Bangladesj se kolfbeurt het Murshida Khatun met 62* uitgetroon.

Saam met Nigar Sultana (34*) het hulle vir ʼn onoorwonne derdepaaltjie-vennootskap van 66 lopies gesorg.

Nondumiso Shangase (1/13) en die nuweling Eliz-mari Marx (1/25) het die beste met die bal gevaar.

Die volgende wedstryd word Woensdag in Kimberley gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.