Raducanu wéér afrigterloos

Groot-Brittanje se Emma Raducanu. Foto: Martin Keep/AFP.

Die Britse tennissensasie Emma Raducanu is weer op soek na ’n afrigter.

Dié keer is dit egter nie die voormalige Amerikaanse Ope-kampioen se skuld dat sy afrigterloos is nie.

Die Rus Dmitry Tursunov en die negentienjarige Raducanu se paaie het vandeesweek geskei nadat hulle die laaste sowat twee maande saamgewerk het.

Dit was Tursunov se besluit om sy rug op Raducanu te keer omdat hy ongelukkig was omdat sy hom nie op ’n langtermynkontrak as haar afrigter wou aanstel nie.

Raducanu het die laaste agttien maande vier afrigters gehad en die tenniswêreld gons oor die Brit wie se tennisloopbaan op die afdraande pad blyk te wees.

Sy kon slegs agt van haar laaste vyftien wedstryde wen nadat sy verlede jaar van nêrens af op die toneel verskyn het en die eerste kwalifiseerder ooit geword het wat die Amerikaanse Ope-titel agter haar naam kon skryf.

Virginia Wade was voor Raducanu die laaste Britse vrou wat ’n Grand Slam-titel kon inpalm. Sy het in 1977 die Wimbledon‑kroon ingepalm.

Raducanu, wat met ’n gewrigsbesering sukkel en tans op die krukkerlys is, moes die laaste tyd baie kritiek oor haar spelpeil verduur.

Kritici sê haar fokus is nie op die spel nie en sy stel eerder belang om soveel geld as moontlik uit borgskappe te verdien as om op die baan te presteer.

Sedert sy verlede jaar die Amerikaanse Ope gewen het, het Raducanu borgskapooreenkomste met die juweliersfirma Tiffany, die Duitse motormaatskappy Porsche, die Franse modehuis Dior, die Britse telekommunikasie-maatskappy Vodafone en die lugredery British Airways gesluit.

Dié borgskappe bring Raducanu glo meer as $20 miljoen (nagenoeg R360 miljoen) per jaar in die sak.

Raducanu hou haar egter doof vir kritiek en het die afgelope week ’n nuwe fiksheidsafrigter aangestel net voordat Tursunov die hasepad gekies het.

Die nuwe fiksheidskundige is Jez Green, wat Andy Murray op sy tone gehou het toe dié Brit die Amerikaanse Ope, Wimbledon en die Olimpiese Spele gewen het.

Raducanu hoop Green kan haar ook tot groter hoogtes aanspoor en verseker dat sy fiks sal wees om aanstaande maand ’n terugkeer tot die baan te maak.

Sy is gekies om Brittanje in die spantoernooi om die Billy Jean King-trofee in Glasgow in Skotland te verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.