Argentyne en Yanks pak mekaar in ‘eindstryd’

Guiseppe du Toit - nou heelagter. (Foro: Rugby Canada)

Guiseppe du Toit – nou heelagter. (Foro: Rugby Canada)

Dis vir alle praktiese doeleindes `n eindstryd wanneer die Argentynse Vyftiental en Amerika se Arende Saterdag mekaar in die Amerikas-rugbykampioenskap aan die strot vat.

Die kragmeting vind in Comodoro Rivadavia in Patagonië plaas, die hoofdorp van `n streek waar `n groot groep uitgeweke Boere hulle ná die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) uit protes teen `n Engelse bewind in die gewese Boererepublieke gaan vestig het. `n Groot boeresportbyeenkoms is tot onlangs toe nog in die omgewing gehou.

Die Argentyne, wat die verdedigende titelhouer is, is die gunsteling om weer vanjaar te wen, maar die Arende het onder die afrigting van die gewese Lions- en Goue Leeus-afrigter John Mitchell in `n sterk bedreiging vir die kampioen ontwikkel.

Die Arende se groep sluit vyf spelers met Suid-Afrikaanse bande in. Todd Clever (flank) het vir die Lions- en die Goue Leeus uitgedraf; Hanco Germishuys (flank) het vir Griekwas se laerskolespan Cravenbekerrugby gespeel; James Hilterbrand (haker) het `n draai by die Kings gemaak; Shaun Davies (skrumskakel) is in Durban, en JP Eloff (senter) in Pretoria gebore en het in die onderskeie stede skoolgegaan.

 Die gebore Johannesburger Guiseppe du Toit is op heelagter gekies vir Kanada se opdrafspan Vrydag op die Pacaembu-stadion in Sao Paolo, Brasilië, teen die tuisspan.

Die veelsydige Du Toit het dusver senter vir die Esdorings gespeel, en is ook op losskakel tuis.

Die broers Brett (slot) en Matt (flank) Beukeboom draf die eerste saam in `n toets vir die besoekers op.

Kanada is die gunsteling om die kragmeting teen die Tupis te wen. Die spanne het nog net een keer tevore teen mekaar gespeel (2016) en die Esdorings het dié wedstryd met 52-25 gewen.

Brasilië het twee Suid-Afrikaners in sy groep: Beukes Cremer (skrumskakel) en De Wet van Niekerk (vleuel).

 In die ander wedstryd in die reeks speel Uruguay se Kiewiete Saterdag in die Charrua-stadion, Montevideo, teen Chili se Kondors, en anders wat wat in natuur die geval sou wees, is die Kiewiete die gusteling om die stryd te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.