Aussies kry ook ’n afrigtersknou

Die Aussies sal weldra ’n nuwe verdedigingsafrigter in Matt Taylor se plek aanstel. Foto: GB Jordaan.

Rugby Australia (RA) het bevestig dat Matt Taylor nie meer deel van die Wallabies se afrigtersopset is nie.

Die 49-jarige Taylor het aanvanklik in Skotland afgerig voordat hy in die aanloop tot die 2020-rugbyseisoen die Aussies se verdedigingsafrigter geword het.

Maar ná ’n gesprek met Dave Rennie (hoofafrigter) is daar gesamentlik besluit dat Taylor vir eers ’n blaaskans van rugby moet neem om aan persoonlike sake aandag te skenk.

“Matt is ’n goeie ou met ’n uitstekende werksetiek. Die spelers het respek vir hom gehad en ons gaan hom beslis mis,” het Rennie gesê.

Op sy beurt het die assistentafrigter erken dat dit ’n baie moeilike besluit was.

“Ek weet egter dat dit die regte een vir my en my gesin is. Ek sien baie daarna uit om meer tyd saam met hulle deur te bring en, wanneer die tyd reg is, my terugkeer as afrigter aan te kondig,” het Taylor gesê.

Dit is die soveelste terugslag wat die Wallabies die afgelope ruk tref.

Daar is gister aangekondig dat die ervare Michael Hooper nie die span teen die Springbokke in die Rugbykampioenskap sal aanvoer nie.

Die 30-jarige losvoorspeler het aan die vooraand van Australië se twee wedstryde teen Argentinië aangedui dat hy met sy gemoedstoestand en geestelike welstand sukkel en hy het hom aan die span onttrek.

Die Aussies het die eerste kragmeting met 41–26 gewen, maar hulle is in die tweede toets met 48–17 oorrompel.

Die Springbokke sal poog om hul eerste toets in nege jaar in Australië te wen wanneer hulle op 27 Augustus in Adelaide met die Wallabies swaarde kruis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.