Bietjie goeie nuus ná Kolbe-besering

Cheslin Kolbe in aksie vir sy Franse klubspan. Foto: Christophe Simon/AFP.

Jacques Nienaber en die res van die Springbok-afrigtersgroep het waarskynlik hul asem opgehou toe Cheslin Kolbe die veld in trane in Frankryk verlaat het.

Die talentvolle vleuel het in die 36ste minuut van Toulon se wedstryd teen Lyon sy enkel seergemaak. Vóór dit het hy weer eens met sy skeppende spel beïndruk om ʼn drie vir sy span te druk.

Maar volgens die Franse publikasie Midi Olympique RugbyRama is die besering dalk nie so erg soos wat daar aanvanklik gevrees is nie.

Pierre Mignoni (Toulon-afrigter) het gesê dat dit eerder lyk of die 29-jarige speler sy enkel geswik het. Die span wag egter nog op toetsuitslae om die volle omvang van die besering te bepaal.

Kolbe het reeds 11 drieë in sy 23 Springboktoetse gedruk, terwyl hy ook verlede November saam met spelers soos Faf de Klerk en Damian Willemse die Bokke se stelskoppligte in Handré Pollard se afwesigheid oorgeneem het.

Hy was verlede jaar ook vir ʼn gedeelte van die internasionale seisoen op die krukkelys nadat hy sy kakebeen in die laaste toets teen Wallis in Kaapstad gebreek het.

Nienaber sal hom egter bitter graag in die Springbokspan vir later vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Frankryk wil sien.

Hy is nie net baie vertroud met die toestande nie – danksy sy heldedade vir Toulouse en Toulon – maar hy beskik oor die ongekende vermoë om selfs die kleinste geleentheid in ʼn drie te omskep.

Hy het ʼn belangrike drie in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland gedruk, terwyl sy drie in die beslissende toets teen die Britse en Ierse Leeus die wedstryd in Suid-Afrika se guns geswaai het.

Daarbenewens is hy vreesloos op verdediging terwyl hy ook op skrumskakel kan uithelp wanneer een van die nommernegespelers nie op die veld kan wees nie.

“Cheslin is briljant en hy sorg vir soveel energie. Terselfdertyd is hy een van ons belangrikste spelers en hy was oudergewoonte weer oral op die veld – dit is wonderlik om hom in die span te hê,” het Lukhanyo Am gesê nadat Kolbe ʼn reuse-aandeel in ʼn drie teen die Leeus gehad het.

Die Springbokke speel op 10 September hul eerste Wêreldbeker-wedstryd teen Skotland op die Stade Vélodrome.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.