Blitsbokke (vroue) gee Colombia streepsuiker

Die Blitsbokke se vrouespan het Saterdag in Kaapstad ʼn bietjie aansien herwin toe dié span Colombia met 27-0 in ʼn uitspeelwedstryd in die Wêreldbekertoernooi geklop het [Foto: WomenBoks, Twitter]

Die Blitsbokke se vrouespan het Saterdag in Kaapstad ʼn bietjie aansien herwin toe dié span Colombia met 27-0 in ʼn uitspeelwedstryd in die Wêreldbekertoernooi geklop het, maar daar sal besin moet word oor die ontwikkeling van die spel.

Die vroue-Blitsbokke speel Sondagmiddag om 14:37 teen China uit om die 13de plek van 16 spanne nadat die Blitsbokke deur Frankryk (29-0) en Japan (14-12) in hul eerste twee wedstryde slae toegedien is.

Nadat die Blitsbokke (vroue) vroeër vanjaar in Birmingham net een wedstryd op die Statebondspele (teen Sri Lanka) kon wen, sal die kaarte op die tafel geplaas moet word.

Ja, vroue-rugby kan nie met die Blitsbokke (mans) en die Springbokke saamgesels nie, want dit is eintlik nog in sy kinderskoene.

Maar as daar in ander sportsoorte soos vroue-sokker en vroue-krieket reeds ongekende vordering gemaak is en daar nou op die groot verhoë saam met van die wêreld se beste spanne saamgesels word, hoekom nie ook vrouerugby nie?

Wat van netbal, hokkie en swem?

Ek onthou hoe daar sowat 25 jaar gelede ʼn groot vrouetoernooi op Loftus Versfeld gehou is waaraan al die land se voorste vrouespelers deelgeneem het.

Die opgewondenheid was groot, die tafel is vir die toekoms is gedek, is daar gesê.

Ek onthou nog hoe Marijke Nel (sy is die kleinkind van die oud-Springbokkaptein Philip Nel) as losskakel uitgeblink het en daar ʼn groot toekoms vir haar voorspel is.

Maar daar het weinig van die beloftes gekom en vrouerugby is erg afgeskeep.

As lande soos Japan en China se vrouespanne al hoe meer na vore tree, as Australië , Nieu-Seeland, Engeland, Frankryk, Kanada, die VSA en Fidji se vrouespanne op die voorgrond is, hoekom nie ook Suid-Afrika nie?

* Puntemakers teen Japan:

Japan 14 (7): Drieë: Chiharu Nakamura, Wakaba Hara. Doelskoppe: Yume Okuroda (2).

Suid-Afrika (12): Drieë: Nadine Roos, Sizophila Solontsi. Doelskop: Roos.

* Puntemakers teen Colombia: Suid-Afrika 27 (12): Drieë: Nadine Roos (4), Mathrin Simmers. Doelskop: Eloise Webb. Colombia 0.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.