Bulle smoor Pumas, maar sonder bonuspunt

(Foto: Blou bulle/Facebook)

Die Blou Bulle het Saterdag in Mbombela die deur oopgehou om vir die uitspeelrondes van die Curriebeker-reeks te kwalifiseer, maar vir die Pumas bly dit ʼn opdraande stryd.

Die Bulle het hul kragmeting met 24-17 gewen, maar kon nie ʼn bonuspunt verower nie. Die Pumas, wat met sewe of minder punte verloor het, het een bonuspunt verdien.

Die Bulle het nou saam met die Westelike Provinsie en Leeus tot 31 punte op die puntelys opgeskuif, met Griekwas op 30.

Die Pumas is steeds derde met 36 punte, agter die Haaie (43) en Cheetahs (41 punte).

Al agt spanne het nog twee wedstryde oor wat gaan bepaal wie tot die uitspeelrondes sal deurdring.

Saterdag se kragmeting was ʼn kwaai armdruk.

Die Blou Bulle het by hul patroon gehou. Hulle het gemaal, gerol en gewurg, maar die Pumas wou nie bes gee nie en het meer aangeval.

Met net ʼn paar minute oor, was die telling nog 17-17.

Die Pumas kon ná die drie deur die kwiksilwer-heelagter Devon Williams voorgeloop het, maar Tinus de Beer het met die doelskop misluk.

Die Bulle het die sakkie toegeknoop toe David Kriel sy tweede drie gedruk het. Johan Goosen het vanuit die hoekie met die doelskop geslaag.

Die Bulle was die stewigste in die skrums; Ruan Nortjé, Elrigh Louw en Nizaam Carr het genoeg lynstaanbesit verseker en Marcell Coetzee, Louw en Carr het gedryf, gedryf en gedryf.

Agterlangs het Goosen 14 punte (een drie, drie doelskoppe en ʼn strafdoel) bygedra en Kriel het twee drieë gedruk.

Die Pumas het die afgelope paar weke stoom begin verloor. Hulle gaan gebuk onder beserings, maar Williams, Etienne Taljaard, Diego Appollis, De Beer en Giovan Snyman is blink diamante.

Voorlangs het Corné Fourie, Shane Kirkwood, Kwanda Dimaza en Francois Kleinhans nooit moed opgegee nie.

Maar gaan hulle enduit kan byhou?

Puntemakers: Bulle 24 (14): Drieë: David Kriel (2), Johan Goosen. Doelskoppe: Goosen (3). Strafdoel: Goosen.

Pumas 17 (9): Drie: Devon Williams. Strafdoele: Tinus de Beer (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.