Bulls gooi voorsprong in tweede helfte weg

Ulster het die Bulls met 32 – 23 geklop. Foto: Twitter.

Dit is tans duidelik dat die Bulls bitter graag ’n rugbywedstryd wil wen, maar die span kry dit glad nie reg nie.

Die Pretorianers het hul soveelste nederlaag op ʼn streep gely toe Ulster hulle met 32 – 23 op die Kingspan-stadion geklop het.

Die uitslag beteken dat hulle nou sewende op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer is, terwyl die Ierse klub in die derde plek in die Stormers se nekke blaas.

Gewoonlik lig ʼn mens se wenkbroue wanneer die Bulls oor skeidsregterbeslissings kla, maar hierdie keer het die televisieskeidsregter, John Mason, inderdaad ʼn invloed op die wedstryd gehad.

Hy het gereeld die wedstryd gestop om een of ander obskure voorval uit te wys en dit het dikwels die Pretorianers duur te staan gekom; hetsy deur ʼn omstrede strafskop, drie of geel kaart.

Ja-nee, as jy in ʼn rugbygat is, tel daar soveel dinge teen jou.

Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie het egter vir ʼn definitiewe vonk gesorg en die twee Springbok-vleuels het uitstekend gekombineer om die Bulls se eerste drie te druk.

Teen rustyd het die besoekers ʼn onverwagse voorsprong van 20 – 12 geniet en hulle het beslis soos die Pretoria-span van ouds begin lyk.

Maar Ulster het begin punte aanteken, die strafskoppe het begin ophoop en voordat jy jou oë kon uitvee, het die Bulls nog ʼn wedstryd verloor.

Tom Stewart het drie drieë vir Ulster gedruk nadat die tuisspan sy rolmaalbeweging uitstekend ingespan het, terwyl Duane Vermeulen die Iere se kapteinskapleisels stewig vasgehou het.

Die Springbok-veteraan het oudergewoonte sy teenwoordigheid by die afbreekpunte laat geld, terwyl sy leierskap ook tot sy spelers se voordeel strek.

Net jammer hy doen dit vir die verkeerde span, sal Bulls-ondersteuners mor.

  • Puntemakers:

Leinster: Drieë: Tom Stewart (3) en Robert Baloucoune. Doelskoppe: Nathan Doak (3). Strafskoppe: Doak en John Cooney.

Bulls: Drieë: Kurt-Lee Arendse en Zak Burger. Doelskoppe: Chris Smith (2). Strafskoppe: Smith (3).

  • VRK-punteleer:
  1. Leinster: 74 punte
  2. Stormers: 61 punte
  3. Ulster: 59 punte
  4. Glasgow Warriors: 54 punte
  5. Munster: 48 punte
  6. Connacht: 44 punte
  7. Bulls: 43 punte
  8. Sharks: 41 punte
  9. Benetton: 40 punte
  10. Cardiff: 39 punte
  11. Lions: 38 punte
  12. Ospreys: 35 punte
  13. Scarlets: 33 punte
  14. Edinburgh: 33 punte
  15. Dragons: 19 punte
  16. Zebre: 10 punte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.