Bulls klop Sharks met doodsnik-skepdoel

Die Bulls het die Sharks Saterdag met drie punte op Loftus Versfeld geklop. (Foto: GB Jordaan)

Dit was nog altyd een van die ou Noord-Transvaal, Blou Bulle en Bulls se groot troefkaarte: ’n Losskakel wat kan skepskop wanneer dit moet.

Dink maar terug aan Naas Botha, Derick Hougaard en Morné Steyn.

Saterdag op Loftus Versfeld was dit Chris Smith se beurt tot hy hom by dié uitgelese geselskap aangesluit het nadat hy in die 84ste minuut van die kwarteindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap die Sharks met ʼn skepdoel gekelder het.

Met die telling op 27 – 27 en speeltyd byna verstreke, was bykomende speeltyd op die tafel.

Die Bulls het die Sharks Saterdag met drie punte op Loftus Versfeld geklop. (Foto: GB Jordaan)

Maar die Bulls het ʼn strafskop op hul eie 10-meterlyn afgedwing, Smith het die bal tot sowat 30 meter van die Sharks se doellyn af uitgeskop, die Bulls het die lynstaan gewen en toe begin rol-en‑dryfmaal. Fase na fase, terwyl Smith gereed begin staan het vir ʼn skepdoel.

Hoekom het die Sharks verloor? Omdat hulle 70 minute lank nie volgens hul sterk punte gespeel het nie.

Toe hulle die bal begin rek, het die Bulls die eerste keer nie die pas volgehou nie.

Ook het die Bulls hul foute tot ʼn minimum beperk terwyl die Sharks foute begaan het.

Die Sharks wou van die afskop af die Bulls voorlangs wurg en nadat hulle die eerste skrum oorheers het en Bongi Mbonambi ʼn drie ná ’n lynstaan-dryfmaal gedruk het, het dit so gelyk.

Maar ʼn paar hanteerfoute, vorentoe-aangeë, soms swak aangeë asook ʼn paar doellose taktiese skoppe, het die Sharks se planne beduiwel.

Die Bulls het die Sharks Saterdag met drie punte op Loftus Versfeld geklop. (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls het gespeel soos hulle die afgelope twee jaar onder die afrigter, Jake White, speel.

Met ysters soos Walt Steenkamp, Ruan Nortjé, Marcell Coetzee, Arno Botha en Elrigh Louw wat voorlangs die hef in die hande gekry het, is die grondslag gelê.

Hulle het nie oorheers nie, net seker gemaak dat hulle hul besit behou, twee lynstane by die Sharks afgeneem, ʼn losbal of twee gegaps en goed verdedig.

Die Bulls het die Sharks Saterdag met drie punte op Loftus Versfeld geklop. (Foto: GB Jordaan)

Met spelbrekers soos Cornal Hendricks, Madosh Tambwe en die jong Canan Moodie agterlangs, is die slag geslaan.

En toe verewig Chris Smith, die oud-Matie wat op SACS in Kaapstad op skool was, sy naam in Loftus se annale.

Punte: Bulls 30 (13): Drieë: Madosh Tambwe, Marcell Coetzee, Cornal Hendricks. Doelskoppe: Chris Smith (3). Strafdoele: Smith (2). Skepdoel: Smith.

Sharks 27 (13): Drieë: Bongi Mbonambi, Jaden Hendrickse, Sikhumbuzo Notshe. Doelskoppe: Curwin Bosch (3). Strafdoele: Bosch (2)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Mooi Bulle, wys net, n span met ten minste 8 Bokke kan gewen word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.