Crusaders en Brumbies maak stemme dik; Hurricanes verniel Japanners

crusaders-logo-teamspagesDie eerste Saterdag se Superrugby in 2017 het uiteenlopende indrukke gelaat: twee vorige wenners is weer honger vir sukses; die verdedigende kampioen het die Sunwolves verslind; en daar was ʼn getjommel tussen twee Australiese spanne.

Crusaders en Brumbies dreun mekaar op

In Christchurch moes die sewemalige Superrugbykampioen, die Crusaders, hard werk om ’n begeesterde Brumbies 17-13 te klop.

Die tuisspan, wat in 2008 laas die trofee kon lig, het vroeg bloed geruik toe die vleuel Seta Tamanivalu gaan druk het. Toe die Crusaders boonop rustyd met ’n voorsprong van 12-3 ingegaan het, sou min mense geld op ’n Brumbies-oorwinning gesit het.

Die Brumbies, wat self al twee keer die titel verower het, het kort na rustyd binne trefafstand gekom toe die slot Rory Arnold oorgeduik het. Helaas het die Crusaders verbete aan hulle voorsprong vasgeklou.

Die Crusaders en Brumbies het gewys dat hulle aanspraakmakers op die kroon is, hoewel albei spanne nog tekens van aflê-roes getoon het. Maar dis nog vroeg in dié reeks, waarvan die eindstryd eers in Augustus gespeel word.

Puntemakers –
Crusaders (12) 17:
Drieë: Seta Tamanivalu, Whetu Douglas, Peter Samu. Doelskop: Richie Mo’unga.
Brumbies (3) 13: Drie: Rory Arnold. Doelskop: Wharenui Hawera. Strafdoele: Hawera 2

Waratahs sit Force ore aan

In ’n verbeeldinglose Australiese derby het die Waratahs die Force Saterdag 19-13 in Sydney geklop.

Albei spanne het een keer gaan druk, maar die verskil tussen die twee spanne was die hoeveelheid strafskoppe wat die Force afgestaan het wat deur die Waratahs se losskakel Reece Robinson in punte omskep is.

Nie dat die Waratahs die verbeelding met hulle spel aangegryp het nie. Besit wat in die losgemale afgestaan is en die onvermoë om die voordeellyn oor te steek het die Waratahs na niks meer as ’n gemiddelde span laat lyk nie.

Puntemakers –
Waratahs (9) 19:
Drieë: Will Skelton. Doelskop: Reece Robinson. Strafdoele: Robinson 4.
Force (13) 13: Drie: Jono Lance. Doelskop: Lance. Strafdoele: Lance 2.

Verdedigende kampioen kneus Sunwolves

Die 2016-Superrugby-kampioen, die Hurricanes, het sy Superrugby-veldtog op ’n hoë noot begin deur die Sunwolves 83-17 in Tokio te verslaan.

Die besoekers het nie minder as 13 drieë gedruk nie en die tuisspan na ’n laerskoolspan laat lyk.

Vir die tuisspan het hulle twee Suid-Afrikaanse huursoldate, die voormalige Griekwas en Sharks-heelagter Riaan Viljoen en die voormalige Cheetahs- en Lions-flank Willie Britz elk ’n drie gedruk.

Puntemakers –
Sunwolves (5) 17:
Drieë: Riaan Viljoen, Shokei Ken, Willie Britz. Doelskop: Timothy Lafaele.
Hurricanes (45) 83: Drieë: Ardie Savea 2, Vince Aso 2, Michael Fatialofa 2, Ricky Riccitelli, TJ Perenara, Julian Savea, Ngani Laumape, Blade Thomson, Brad Shields, Wes Goosen. Doelskoppe: Otere Black 9.

Chiefs begin seisoen op hoë noot

Die Chiefs het Vrydag in Dunedin drie drieë gedruk om die Highlanders 24-15 te klop.

Al die Highlanders se punte het van die skopvoet van die losskakel Lima Sopoaga gekom wat met vyf strafdoele geslaag het.

Vir die Highlanders se afrigter, die voormalige All Black-losskakel Tony Brown, sal sy span se onvermoë om drieë te druk ’n hoofpyn verskaf. Hulle speel aanstaande week gasheer teen die Crusaders en indien Brown nie hierdie onvermoë in die komende week kan aanspreek nie, is nog ’n neerlaag hulle voorland.

Puntemakers –
Highlanders (9) 15:
Strafdoele: Lima Sopoaga 5.
Chiefs (14) 24: Drieë: James Lowe 2, Hika Elliot. Doelskoppe: Aaron Cruden 3. Strafdoele: Cruden.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.