Curriebeker: Pumas knoop Leeus se sterte

Die Pumas het die Leeus met 36-33 in hul Curriebekerwedstryd geklop. (Foto: Lions/Twitter)

Rugbyspelers sal voortaan in hul spore moet trap, want skeidsregters is oënskynlik moeg daarvan om slaansakke vir kritiek te wees.

Dit was die afleiding wat Vrydagmiddag op Ellispark gemaak kon word toe die Pumas die Leeus met 36-33 in hul Curriebekerwedstryd geklop het.

Die Leeus was rustyd met 21-10 voor, maar waar hulle in die eerste helfte goeie dissipline gehandhaaf het en by hul spelpatroon gehou het, het hulle die kluts ná rustyd heeltemal kwytgeraak.

Die skeidsregter, Marius van der Westhuizen, het altesame 27 strafskoppe toegeken, hy het drie spelers (die Pumas se Willie Engelbrecht en Pieter Jansen van Vuren en MJ Pelser van die Leeus) met geelkaarte gestraf en ook ʼn strafdrie aan die Leeus toegeken nadat die Pumas herhaaldelik in die skrums gevou het.

Die Pumas het met dié oorwinning nou 20 punte op die puntelys en tot derde posisie opgeskuif.

Foto: GB Jordaan.

Die Leeus, wat ook hul vorige wedstryd teen die Bulle verloor het, het darem twee bonuspunte met vier drieë verdien en ook omdat hulle binne sewe punte van die Pumas geëindig het.

Maar hulle is tweede laaste en net twee punte voor die Vrystaat-Cheetahs. Iewers sal daar besin moet word, want om heeltemal te oorheers en met 11 punte voor te loop en dan boedel oor te gee, moet die waarskuwingsligte laat flikker.

Agterlangs was daar tog heelwat ervaring, met Wandile Simelane wat heel onlangs nog saam met die Springbokke was, Rabz Mxwane en Courtnal Skosan op vleuel, Fred Xeilinga die plaasvervanger-losskakel en André Warner die skrumskakel.

Ja, voorlangs is ʼn hele paar jongelinge, maar wat van Jannie du Plessis, Jaco Visagie en Ruan Dreyer?

Die Pumas het weer eens met hul spel beïndruk. Foto: GB Jordaan.

Vir die Pumas moes die samespel, besluitneming en alles op volle vaart doen vir die afrigter, Jimmy Stonehouse, stroopsoet gewees het.

Devon Williams, Etienne Taljaard, Erich Cronjé, Eddie Fouche en Ginter Smuts was agterlangs kookwater en hoewel die Pumas in die skrums opgefrommel is, het Simon Westraad, Pieter Jansen van Vuren, Shane Kirkwood en Willie Engelbrecht die Leeus se jongelinge lesse geleer.

Punte: Pumas 36 (10): Drieë: Devon Williams, Shane Kirkwood, Etienne Taljaard (2), Erich Cronjé. Doelskoppe: Eddie Fouché (4). Strafdoel: Fouché.

Leeus 33 (21): Drieë: Rabz Maxwane, strafdrie (7 punte), PJ Botha, Courtnall Skosan, Sti Sithole. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (3).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.