Curriebekerreeks: Pumas se reddingsboei teen Leeus

Die Mbombela-stadion bloot ter illustrasie. Foto: Verskaf.

Die afrigter van die Pumas se rugbyspan, Jimmy Stonehouse, hoef straks nie sy span uit te trap oor hul insinking in die tweede helfte van Vrydag se Curriebekerwedstryd teen die Leeus in Mbombela nie.

Hy kan maar net die video aan die spelers wys en vra dat hulle selfondersoek doen.

Dit volg nadat die Pumas die wedstryd, wat hulle met 34-27 gewen het, so byna uit hul hande laat glip het.

Die Pumas was in die eerste helfte kookwater en het voortgebou op verlede week se vertoning toe hulle die Bulle met 63-15 op Loftus Versfeld verniel het.

Die Pumas het Vrydag vir 40 minute oorheers, hulle het die Leeus se besit gesmoor en agter die voordeellyn vasgevat. Dit het tot ʼn rustydtelling van 17-3 gelei en die tafel was gedek vir ʼn oortuigende sege.

Maar toe kruip die Pumas in hul doppe en laat die Leeus toe om beheer te neem. Vyf minute voor die einde was die telling met 27-27 gelykop.

Indeendeel, as die Leeus se losskakel, Vaughen Isaacs, nie met ʼn doelskop van byna reg voor die pale misluk het nie, kon die Leeus voorgeloop en gewen het.

Byna direk ná die afskop het Isaacs nog ʼn blaps begaan toe hy die bal aangeslaan het.

Dit was die reddingsboei vir die Pumas en het tot die doodsnikdrie deur die senter Diego Appollis gelei, wat deur die losskakel Brandon Thomson verdoel is.

Die Pumas kon weer asemhaal en het hul tweede bonuspuntsege agtereenvolgens behaal.

In die eerste helfte het die Pumas die kuns vervolmaak om net soos die Ierse kragreus Leinster teen ʼn baie hoë tempo te speel. Hulle het toe gewys dat baie spanne in vanjaar se Curriebekerreeks met die kous oor die kop huis toe gestuur kan word.

Hulle het ook nie onnodig kontak by die afbreekpunte gemaak nie, wat daartoe gelei het dat die twee, drie ekstra voorspelers byderhand was om te help verdedig.

Maar toe volg die insinking wat byna tot die Pumas se ondergang gelei het.

Weg was hul vinnige tempo, weg was hul oorheersing en ondersteuning, weg was hul gebiedsvoordeel.

So byna was daar groot treurmare in die Laeveld.

Punte:

Pumas 34 (17): Drieë: Diego Appollis (2), Devon Williams, André Fouché, Corné Fourie. Doelskoppe: Brandon Thomson (3). Strafdoel: Thomson.

Leeus 27 (3): Drieë: Boldwin Hansen (2), Jarod Cairns, Vaughen Isaacs. Doelskoppe: Isaacs (2). Strafdoel: Isaacs.

???????????????? ????????????????: AIRLINK PUMAS 34 – 27 FIDELITY ADT LIONSIt was a tough night out in Mbombela for our Fidelity ADT Lions. What a game though!#CurrieCup | #WhereLegendsRise #LionsPride????

Posted by Lions Rugby Co on Friday, March 17, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.