Curriebekerreeks: Wie gaan tussen topvier eindig?

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

Dit is maande gelede reeds voorspel dat die spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap (Bulls, Lions, Stormers en Sharks) speel, die Curriebekerreeks kan oorheers wanneer hul topspelers beskikbaar is.

Dis hoekom die Cheetahs en Pumas vroeg aan ’n voorsprong gebou het en steeds die hef in die hand het.

Maar Saterdag in Bloemfontein en Kimberley het die Leeus en Blou Bulle hulle by die Haaie aangesluit wat Vrydag in Mbombela die Pumas geklop het.

Die kaarte is nou heeltemal deurmekaargekrap nadat die Leeus die Cheetahs met 33-26 geklop het en die Bulle ʼn oorwinning van 40-20 oor Griekwas behaal het.

Die Cheetahs (38 punte) is steeds voor op die puntelys, gevolg deur die Pumas (35), Haaie (33), Westelike Provinsie (27), Leeus (24), Griekwas (23), Bulle (22) en Griffons (9).

Die volgende paar weke gaan baie interessant verloop, want die topspanne kan nie bekostig om vas te val nie.

Wat wel in die Cheetahs en Pumas se guns tel, is dat daar net een wenner tussen die VRK-spanne mekaar gaan wees wanneer hulle mekaar in die Curriebekerreeks pak.

Ook sal bonuspunte uiters kosbaar wees. Die sogenaamde kleiner spanne se dissipline sal ook kwaai getoets word.

Die Cheetahs het darem in Bloemfontein twee bonuspunte teen die Leeus verower toe hulle twee drieë teen die einde gedruk het.

Dit kan baie maklik bepaal of Cheetahs tuisveldvoordeel in die uitspeelrondes sal hê.

* Puntemakers: Leeus 33 (20) Drieë: Rynhardt Jonker, Edwill van der Merwe, JC Pretorius, Doelskoppe: Sanele Nohamba (3). Strafdoele: Nohamba (4)

Cheetahs 26 (7) Drieë: George Cronjé (2), Siba Qoma, Marnus van der Merwe. Doelskoppe: Ruan Pienaar (2), George Lourens.

In Kimberley het Griekwas die Bulle se verdediging erg getoets en ook met hul aanvallende spel die Bulle onder druk gehad.

Die Bulle het ses drieë vir hul bonuspuntsege gedruk en die agterdeur oopgehou om tussen die topvier te eindig.

Die Bulle was baas in die skrums en die aanslag van hardebaarde soos Elrigh Louw, Marcell Coetzee en Johan Grobbelaar was te veel vir die moedige tuisspan.

* Puntemakers: Bulle 40 (19): Drieë: Embrose Papier, Johan Grobbelaar (2), Elrigh Louw, Marco Jansen van Vuren, Simphiwe Matanzima. Doelskoppe: Chris Smith (5).

Griekwas 20 (3): Drieë: Johan Mulder, Jay-Cee Nel, Stephan Smit. Doelskop: Lubabalo Dobela. Strafdoel: Dobela.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.