Eindstrydkaartjies hierdie Donderdag beskikbaar

Die Stormers speel op 27 Mei teen Munster in die VRK-eindstryd. (Foto: Hansie Linde)

Die Stormers speel op 27 Mei in sy tweede agtereenvolgende Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd wanneer daar teen Munster op die DHL-stadion kragte gemeet word.

Kaartjies vir die rugbyskouspel sal vanaf Donderdag (18 Mei) beskikbaar wees en luidens ʼn amptelike verklaring sal pryse tussen R80 en R375 wissel.

“As ʼn blyk van waardering vir die lojaliteit van seisoenkaartjiehouers, sal seisoenkaartjies ook vir volgende naweek se wedstryd geldig wees.”

Verder sal kaartjies wat via Ticketpro aangekoop word, geldig wees.

Die Stormers het vir die eindstryd gekwalifiseer toe hulle ʼn aksiebelaaide stryd teen Connacht met 43 – 25 gewen het.

Daarteenoor het die suksesvolle skepskoppoging van Munster se Jack Crowley nie net Leinster se bekerplanne gepootjie nie, maar terstond ook ʼn tuiseindstryd vir die Stormers verseker.

Die eindstryd bied ook die perfekte geleentheid om Steven Kitshoff behoorlik te groet voordat hy na Ulster vertrek.

Die Stormers-kaptein en Springbok-stut het juis verlede week ʼn barshou teen Connacht gespeel en nóg ʼn trofee sal ʼn baie lekker afskeidsgeskenk wees.

Terselfdertyd het verskeie spelers in aanloop tot die eindstryd gesê dat hulle hul ondersteuners ʼn rede wil gee om te glimlag.

  • Die eindstryd vind op 27 Mei plaas en die aksie sal om 18:30 begin.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.