Engelse laat Springbokke bloos

Argieffoto

Daar is sekere dae in Springbokrugby wat ʼn mens gou wil vergeet.

Maar vandag, 3 Julie, presies 48 jaar gelede in 1972 op Ellispark, is een van daardie dae wat jou steeds sooibrand  gee, want jy wil eintlik nie daaroor praat nie.

Die Springbokke was op die kruin van die golf ná ʼn reeksoorwinning van 3-0 oor die All Blacks in 1970 en ʼn ongeëwenaarde onoorwonne toer deur Australië in 1971. Maar, die uittrede van Frik du Preez, Dawie de Villiers, Piet Visagie, Mannetjies Roux, Ian McCallum en Hannes Marais het ʼn groot leemte gelaat.

Marais het wel in 1974 sy uittrede op die rak geplaas om die Bokke teen die Britse Leeus te lei.

Die Engelse is bitter min kans gegee, want hulle het laaste in 1972 se Vyfnasies-reeks geëindig en ʼn paar spelers wou nie deur Suid-Afrika toer nie.

Daar was boonop nege groentjies in die toerspan van 26 spelers en hulle moes binne 17 dae sewe wedstryde speel op seevlak en ʼn toets op die Hoëveld, wat heelwat reistyd tussen Durban, Kaapstad, Port Elizabeth, Pretoria, Kimberley en Johannesburg ingesluit het.

Hulle het glad nie oortuig nie teen die SA Federasie (11-6) en die Luiperds (dit was nou nie die Luiperds van Potchefstroom nie, maar ʼn span bestaande uit swart spelers wat onder die vaandel van die ou SA Rugbyraad gespeel het).

Maar, soos soveel keer in die verlede, het die keurders kleigetrap.

Hulle het die groentjie Ray Carlson op heelagter gekies en die jong Dawie Snyman in sy eerste toets as losskakel ingespan. Voorlangs het Niek Bezuidenhout en Piet du Plessis hul buigings gemaak en Piet Greyling is die eerste keer as kaptein gekies. Die toets was ʼn getjommel en die Bokke is met 18-9 geklop.

Bygesê, die Engelse stut Stack Stevens moes weens ʼn diep sny behandeling ontvang, die vaskop Mike Burton het na loskop geskuif en die ligte flank John Watkins het noodgedwonge stut gaan speel. Dit was voor die dae van (tydelike) plaasvervangers, maar selfs dit kon die Bokke nie uitbuit nie.

Daar is net een drie gedruk, deur Alan Morley met Snyman wat met drie strafdoele vir die Bokke geslaag het.

Die nederlaag het die einde van ʼn paar spelers se toetsloopbane beteken en dit het die noodligte laat flikker, wat eers ná die toer van die Britse Leeus in 1974 weer afgeskakel kon word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.