Gerber wéér die uitskieter in Franse liga

Danré Gerber – 16 punte. (Foto: Mont de Marsan)

Die gewese Bolandse Curriebekersenter Danré Gerber was weereens die uitskieter tussen die Suid-Afrikaners in die Franse ligas.

As losskakel het hy twee doelskoppe en vier strafdoele deur die pale gejaag om 16 punte vir Mont de Marsan teen Aurillac aan te teken.

Laasgenoemde het met 31-26 gewen.

Gerber het verlede week teen Perpignan 18 punte op die telbord geplaas.

Franse Top14-liga

♦ In die Franse Top14-liga het die 20-jarige Jaco van Tonder (plaasvervangerslot), ʼn gewese SA Skolespeler, een van Clermont se drie drieë in sy sege van 33-3 oor Bordeaux Bègles gedruk.

♦ Die Springbok Morné Steyn (losskakel) is met ʼn geel kaart in Stade Français se wedstryd teen Lyon gestraf.

Laasgenoemde het die Bok se span met 40-3 opgefrommel.

Franse Pro D2-liga

♦ Vickus Liebenberg (plaasvervangerslot) het twee drieë vir Dax in sy sege van 34-28 oor Vannes gedruk.

Hy het Curriebekerrugby vir die Suidwestelike Distrikte gespeel.

♦ Aidon Davis (agsteman) het ʼn drie en ʼn doelskop vir Bayonne in sy nederlaag van 21-26 teen Narbonne aangeteken.

Davis is ʼn gewese SA o.21-speler, wat Superrugby vir die Kings gespeel het.

♦ Nóg ʼn gewese SA o.21-speler, Pellow van der Westhuizen, (plaasvervangerhaker) het ʼn drie vir Montauban gedruk.

Biarritz het die kragmeting met 58-31 gewen.

Van der Westhuizen het Curriebekerrugby vir die Sharks, die Luiperds en die Pumas gespeel.

Sowel hy as Davis het verlede week ook agter die doellyn gaan kuier.

♦ Gert Muller (plaasvervangerstut), wat op sy dag Superrugby vir die Lions gespeel het, het ʼn drie vir die ligavoorloper, Perpignan, in sy wegholsege van 73-7 oor Carcasonne gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.