Glasgow staal hulself vir Bulls-aanslag

Marcell Coetzee op die aanval. Foto: GB Jordaan.

Ja, die gevaarlike Kurt-Lee Arendse mag dalk met ’n duimbesering buite aksie wees, maar die Bulls is steeds ’n gevaar wat vir sy span hoofbrekens kan besorg.

Dit is Danny Wilson se raakvat-opsomming van die komende Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd tussen die Bulls en die Glasgow Warriors op Loftus Versfeld.

Met die vlugvoetige Arendse op die krukkelys het die Bulls vir Canan Moodie na die laaste vesting geskuif, terwyl James Verity-Amm ’n kans op regtervleuel sal kry. Morné Steyn en Zak Burger is die skakelpaar, maar Embrose Papier en Chris Smith is op die plaasvervangersbank.

“Ons het aanvanklik baie van ons beplanning rondom hul aanvallende heelagter gedoen, maar ons sal nou met iets anders vorendag moet kom,” het Wilson gesê.

Die Glasgow-afrigter maak ook gereed vir ’n taktiese skopstryd tussen Steyn en Duncan Weir.

“Skopwerk kan ’n deurslaggewende rol [op die Hoëveld] speel en Duncan is ’n belangrike skakel. Sy taktiese skopwerk is baie goed, terwyl hy ook die bal flink kan uitgee wanneer die situasie dit van hom verlang.”

Op sy beurt het Jake White gesê dat die Bulls nie die Skotse besoekers moet onderskat nie.

“Die Glasgow Warriors is, ondanks verlede week se nederlaag teen die Stormers, steeds ’n gedugte span. Hulle is goed afgerig en daar is ’n hele paar internasionale spelers in hul groep. Ons sal op ons beste vir die hele wedstryd moet wees,” het die Bulls-breier gesê.

Die wedstryd begin vanaand om 19:00 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Bulls: Canan Moodie (heelagter), James Verity-Amm (regtervleuel), Lionel Mapoe (buitesenter), Cornal Hendricks (binnesenter), Madosh Tambwe (linkervleuel), Morné Steyn (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Arno Botha (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Ruan Nortjé (slot), Walt Steenkamp (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (stut) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Jan-Hendrik Wessels, Simphiwe Matanzima, Dylan Smith, Janko Swanepoel, Cyle Brink, Embrose Papier, Chris Smith en Harold Vorster.

Glasgow Warriors: Ollie Smith (heelagter), Josh McKay (regtervleuel), Sione Tuipulotu (buitesenter), Stafford McDowall (binnesenter), Cole Forbes (linkervleuel), Duncan Weir (losskakel), Ali Price (skrumskakel), Jack Dempsey (agtsteman), Rory Darge (flank), Ryan Wilson (kaptein en flank), Richie Gray (slot), Rob Harley (slot), Zander Fagerson (stut), George Turner (haker) en Jamie Bhati (stut). Plaasvervangers: Fraser Brown, Oli Kebble, Simon Berghan, Kiran McDonald, Thomas Gordon, Jamie Dobie, Ross Thompson en Sam Johnson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

hendrie ·

Mapoe se knaende onkantspel verseker minstens 3 strafskoppe vir Glasgow Warriors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.