Grobbelaar bly by Blou Bulle

Johan Grobbelaar van die Blou Bulle in aksie. (Foto: GB Jordaan)

Johan Grobbelaar, haker van die Blou Bulle-rugbyunie, het sy kontrak met die unie verleng en sal tot in Junie 2027 in die Jakarandastad sy rugby speel.

Die 28-jarige het in 103 wedstryde as senior speler gespeel en spog met 123 klubwedstryde op sy naam nadat hy in 2016 sy buiging in die o.19-afdeling gemaak het.

Dié Curriebeker-wenner sê hy sien uit na die volgende paar seisoene.

“Ek sien uit na die volgende drie jaar, want die verlenging was vir my ʼn maklike besluit as jy kyk na die talent wat ons in die span het en die besonderse afrigters en bestuur; dit is regtig ʼn wonderlike span om by betrokke te wees.”

Grobbelaar is al nege jaar by die unie en het ʼn paar onvergeetlike hoogtepunte sedert 2016.

Hy sê een van sy beste herinneringe was toe hy met die Bulle as gasheer vir die Stormers in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd gespeel het.

“Dit was nege jaar van toere, wentrofeë, ʼn beker hier en daar, maar die grootste hoogtepunt vir my was vroeër vanjaar toe die stadion volgepak was.”

Grobbelaar sê die Bulle het onafgehandelde sake en hy hoop om nog ʼn paar silwerware vir die unie in te win.

“Die volgende paar seisoene gaan groot wees. Ek sien uit na die volgende hoofstuk van my loopbaan. Ons het ʼn ongelooflike groep spelers.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.