Handré goud werd vir Engelse span

Handre Pollard skop pale toe. (Foto: Mark Baker)

Handré Pollard sorg tans dat die Leicester Tigers in die Engelse Premierliga naels wys. Die Springbok-losskakel het onlangs 19 punte in sy span se oorwinning teen die Bristol Bears aangeteken.

Die 29-jarige speler het verlede jaar sy knie tydens die Rugbykampioenskap beseer en Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers sal bly wees dat hy weer op alle suiers begin vuur – veral met die oog op die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk.

“Ek het ʼn moeilike vier jaar agter die blad en beserings het gesorg dat dinge nooit werklik aan die gang wou kom nie. Maar dit is baie lekker om net weer met bestendigheid en ritme te speel,” het Pollard in ʼn onderhoud met die Tigers se amptelike webblad gesê.

“Ek geniet tans my rugby. Ek dink trouens dat dit die eerste keer in jare is dat ek dit só baie geniet. Dinge verloop tans goed op die veld, maar ek weet dat daar nog harde werk voorlê.”

Richard Wigglesworth, Leicester se tydelike hoofafrigter, het die nommertienspeler se lof besing.

“Handré is alles wat ʼn mens van ʼn losskakel van wêreldgehalte verwag. Wanneer hy praat, luister die spelers. Hy het uitstekende spel teen Bristol opgedis terwyl hy al vir weke bestendige spel lewer,” het Wigglesworth gesê.

Pollard het reeds 665 punte in sy 65 internasionale toetse aangeteken en iemand soos Rassie Erasmus het vantevore gesê dat die oudleerling van Paarl Gimnasium ʼn baie belangrike skakel in die Springbok-masjien is.

Volgens Erasmus, Suid-Afrika se direkteur van rugby, sal hy enige tyd vir Pollard bó ’n opwindende losskakel soos Skotland se Finn Russell kies omdat hy wedstryde wil wen.

Tog het die Springbok-generaal teen die Bears gewys dat hy ook oor genoeg flair beskik toe hy ʼn bobaas‑drie gedruk het.

Goeie nuus oor Kolbe se seer enkel

Toulon het bevestig dat Cheslin Kolbe net sy enkel geswik het tydens die Franse klub se wedstryd teen Lyon.

Die Springbok-blits het een van sy kenmerkende drieë gedruk, maar hy moes kort daarna die veld verlaat.

Kolbe het intussen op sosiale media laat weet dat sy frustrasievlakke maar taamlik hoog is.

“Ek is teleurgesteld, maar ek sal nie moed verloor nie. Ek glo egter dat ek binnekort weer op die speelveld sal wees,” het die vleuel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.