Italië verrinneweer Kanada by Wêreldbeker

Die Italianers het met hul vaardighede teen Kanada beïndruk. Foto: Twitter.

Vir baie grootoog toeriste kan die Italianers effens nors voorkom, maar ná vanoggend se Groep B-kragmeting sal daar net glimlagte in Rome wees.

Die Italianers het Kanada met 48-7 afgeransel en is tans onoorwonne in die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan.

Hulle was vandag in ’n verwoestende bui en het uiteindelik sewe drieë gedruk; die bonuspunt was danksy ʼn strafdrie reeds in die 58ste minuut in die sakkie.

Vir die Azzurri het hul lostrio uitgeblink en die driemanskap van Jake Polledri, Sebastian Negri en Braam Steyn het vir die Noord-Amerikaanse span hoofbrekens gegee.

Veral Gloucester se Polledri het by tye soos ’n rugbyspeler op ’n rekenaarspeletjie gelyk en hy het die Kanadese verdedigers na hartelus weggestamp die kere wanneer hy met die bal onder sy een arm laat wiel het.

Op hul beurt het Kanada hopeloos te veel foute gemaak – die bal is byvoorbeeld voor ’n oop doellyn laat val met geen Italiaanse verdediger in sig nie. Tog het hulle nooit moed opgegee nie en hulle is uiteindelik in die 70ste minuut beloon toe Peter Nelson en Andrew Coe se flinke werk vir ’n drie gesorg het.

Jy sal ’n hele paar Suid-Afrikaanse huursoldate by die kleiner rugbylande teëkom en die man met die indrukwekkendste naam in wêreldrugby, Daniel Tailliferre Hauman van der Merwe, het sy gô op vleuel vir Kanada uitgespeel.

Maar op die einde was Steyn en sy Italiaanse spanmaats net hopeloos te sterk.

  • Puntemakers:

Italië: Drieë: Braam Steyn, Sebastian Negri, Strafdrie, Mattia Bellini, Frederico Zani en Matteo Minozzi. Doelskoppe: Tommaso Allan (4). Strafskop: Allan.

Kanada: Drie: Andrew Coe. Doelskop: Peter Nelson.

  • Hoe sake in Groep B tans lyk:
  1. Italië: tien punte ná twee wedstryde
  2. Nieu-Seeland: vier punte ná een wedstryd
  3. Suid-Afrika: geen punte ná een wedstryd
  4. Namibië: geen punte ná een wedstryd
  5. Kanada: geen punte ná een wedstryd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.