Jones, Hansen kies spanne vir Twickenham-skouspel

Sbu Nkosi. (Foto: Springbokke/Twitter)

Stephan Lewies sal Sondag saam met Alun Wyn Jones in die Barbarians-lynstane op Twickenham rank, terwyl Francois Hougaard saam met Carlu Sadie op die plaasvervangersbank is.

Dan dra S’bu Nkosi die nommer-elf-trui vir die Wêreld-vyftiental en die Suid-Afrikaans gebore Oli Kebble sal in die voorry sak.

Maar benewens die lekker tweestryde op die veld – dink net aan Gareth Anscombe teen Charles Piutau en Quade Cooper teen Adam Hastings – kan die afrigters ook vir koeranthoofopskrifte langs die veld sorg.

Eddie Jones vat die afrigterleisels van die Barbarians vas, terwyl Steve Hansen aan die stuur van die Wêreld-vyftiental is.

Die 63-jarige Jones is vanjaar as die hoofafrigter van die Wallabies aangestel, kort nadat Engeland se rugbybase hom in die pad gesteek het. Die Rose se nederlaag teen die Springbokke op Twickenham was waarskynlik die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het.

Eddie Jones. (Foto: Twitter.)

Maar ondanks ’n teleurstellende 2022 het die Australiër glad nie sleg in Engeland gevaar nie.

Sy wenpersentasie (73%) is die hoogste onder alle Rose-afrigters, terwyl hy drie keer die Sesnasies-silwerware saam met die span omhoog gehou het. Dan was daar die merkwaardige lopie van 18 onoorwonne wedstryde, terwyl die Engelsmanne ook onder sy toesig tot die Wêreldbeker-eindstryd in 2019 gevorder het.

Op sy beurt is Hansen ’n legende.

Hy was vir 107 toetse aan die stuur van die All Blacks en in dié tydperk was die Kiwi’s slegs tien keer aan die verloorkant.

Hansen se span het onder meer in 2015 die Webb Ellis-trofee in Engeland omhoog gehou.

Die wedstryd begin Sondag om 15:00 (SA tyd).

Barbarians: Gareth Anscombe (heelagter), Adam Radwan (regtervleuel), Seta Tamanivalu (buitesenter), Samu Kerevi (binnesenter), Tevita Li (linkervleuel), Quade Cooper (losskakel), Jack Maunder (skrumskakel), Steven Luatua (agtsteman), Kai Yamamoto (flank), Aaron Wainwright (flank), Stephan Lewies (slot), Alun Wyn Jones (slot en kaptein), Enrique Pieretto (stut), Nic Dolly (flank) en Alex Waller (stut). Plaasvervangers: Harry Thacker, Tom West, Carlu Sadie, Rob Simmons, Sione Vailanu, Francois Hougaard, Aaron Cruden en Sam Johnson.

Wêreld-vyftiental: Charles Piutau (heelagter), Israel Folau (regtervleuel), Semi Radradra (buitesenter), Ngani Laumape (binnesenter), S’bu Nkosi (linkervleuel), Adam Hastings (losskakel), Nick Phipps (skrumskakel), Viliame Mata (agtsteman), Michele Lamaro (flank en kaptein), Sebastian Negri (flank), Harry Hockings (slot), Api Ratuniyarawa (slot), Oli Kebble (stut), Fraser Brown (haker) en Wyn Jones (stut). Plaasvervangers: Elliot Dee, Allan Dell, Marcus Street, Niccolo Cannone, Jordi Murphy, Bryn Hall, Rhys Parchell en Kaminieli Rasaku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.