Kitch moes kies tussen Pienaar en Strauss; toe glip Robbie Brink in

Kitch Christie. Argieffoto.

Daar is sekere rugbyspelers wat met die goue lepel in die mond gebore is.

Robbie Brink was een van hulle.

Brink, wat op 21 Julie 1971 in Pretoria gebore is, het aan Pretoria Boys High gematrikuleer (hy is Boys High se eerste Springbok) en is in 1995 se Wêreldbekergroep ingesluit ná ʼn sameloop van omstandighede.

Brink, wat ʼn krieketbeurs ontvang het om ná skool aan die Universiteit van Kaapstad te studeer, is op 23-jarige ouderdom deur die Springbok-afrigter Kitch Christie by die Springbokke se Wêreldbekerspan betrek.

Brink het in net twee toetse, teen Roemenië en Kanada, gespeel en het later in sy loopbaan na Ierland verhuis waar hy vir Ulster gespeel het.

Hy het Ierland sy tuiste gemaak, het ʼn suksesvolle eiendomsontwikkelaar geword en woon in Cork, waar hy Munster ondersteun.

Christie, wat in 1994 in die plek van Ian McIntosh as afrigter aangestel is, was tussen twee vure vasgevang.

Strauss, wat in 1994 (onder McIntosh) die Bokke se kaptein in die eerste toets een die All Blacks was, kon nie Christie se toerspan vir die einde van die jaar se toer na Wallis en Skotland haal nie.

Christie se keuse het op Pienaar geval, ook as kaptein, en dit het Strauss oortuig om op te pak en na Australië te verhuis waar hy in 1999 in 11 toetse vir die Wallabies gespeel het.

ʼn Mens wonder steeds hoe die Bokke onder Strauss as kaptein sou gevaar het.

Sou hy en Christie kon saamwerk, sou die Bokke ook die Webb Ellis-trofee kon lig?

Christie het Strauss met Brink in sy WB-groep vervang.

Brink het sy rol baie goed besef en hoewel hy net twee kanse gekry het, het hy die wipwaentjierit met geesdrif aangepak.

Ná die toernooi het hy saam met die res van die span en bestuur in ʼn wenbonus gedeel (om en by R1 miljoen elk) en het hy nooit weer vir die Bokke gespeel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.