Leinster nog nie afgeronde produk – Nienaber

Jacques Nienaber. (Foto: X/Leinster)

Met ’n plek in die Kampioenebeker-eindstryd reeds in die sakkie, het Jacques Nienaber gewaarsku dat Leinster definitief nog beter kan speel.

Die Ierse rugbyklubreuse het hul kans om silwerwareglorie teen Toulouse op die Tottenham Hotspur-stadion met ’n sege teen die Northampton Saints in die halfeindstryd van die toernooi verseker.

“Ons het die Saints-wedstryd saam met die spelers hersien en daar is eerlikwaar nog ’n hele paar fasette van die spel waarin ons kan verbeter,” het die voormalige Springbok-hoofafrigter gesê.

Leinster het in ’n stadium ’n voorsprong van 20–3 geniet, maar die gevaarligte het begin flikker toe Northampton ’n groot terugvegpoging op Croke-park in Dublin van stapel gestuur het.

Nienaber het waarskynlik ’n sug van verligting geslaak toe die eindfluitjie met die telling op 20–17 in sy span se guns geblaas het.

“Was daar dinge wat ons beter op die speelveld kon gedoen het? Ja. Het ons ander dinge goed gedoen? Ja. Ek dink rugby is baie soos die lewe – sommige dae voel jy uitstekend en die ander dae weer nie.”

Volgens Nienaber is dit ook belangrik dat ’n span weet hoe om momentum – vír en téén jou – te hanteer.

“Daar sal altyd geleenthede wees. Wanneer jy dit egter nie benut nie, gaan jou teenstanders jou op die telbord straf.

“Ons het nog ’n paar weke vóór die einde van die seisoen en dit gee vir ons ’n goeie kans om aan dinge te werk. Ons is nog nie die afgeronde produk nie.”

Leinster het in die kwarteindstryd van die Kampioenebeker teen La Rochelle gewys waartoe hy onder Nienaber se toesig in staat is.

Die Iere het die wedstryd met 40–13 beklink om soete wraak vir verlede jaar se eindstrydnederlaag teen die einste span te neem.

Kaptein Caelan Doris het ná daardie tweestryd gesê dat sy spelers ’n groot klop op die skouer vir hul aanvallende spel, asook hul raakvat verdediging verdien.

“Wat verdediging betref, was dit ’n baie goeie vertoning. ’n Mens kon dit met van die duikslae op La Rochelle se groot baldraers sien en hulle het gesukkel om voorvoet-momentum op te bou. Dit het ongetwyfeld tot ons oorwinning bygedra,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.