Leinster verpas byna bus teen Saints

(Foto: Leinster Rugby/X)

Een van die groot waarhede in rugby is om spelers nie te ooreis nie en vars te hou vir belangrike wedstryde. Dink maar daaraan hoe Rassie Erasmus die Springbokke voor die Wêreldbekertoernooie reg bestuur het, hoe hy hulle honger gehou en nie ooreis het nie.

Dit het Leinster Saterdagmiddag op Croke Park in Dublin gewys toe hy die Northampton Saints met 20-17 in die halfeindronde van die Kampioenebekerreeks geklop het.

Leinster was vir langer as 60 minute in beheer. Hulle was in ʼn stadium met 20-3 voor, het genoeg besit in die vaste fasette gewen én die Saints van hul doellyn af weggehou.

Hoekom? Want Leinster, wat slegs ʼn week of twee weke gelede nog deur Suid-Afrika op toer was met hul akademiespelers wat groot slae in die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Lions en Stormers gekry het, se belangrike spelers was tuis en uitgerus.

Net soos die Bulls se afrigter, Jake White, dieselfde beleid gevolg het vir die kwarteindronde van die Kampioenebekerreeks deur nie sy beste spelers oorsee te stuur nie, doen Leinster dit jaar ná jaar.

Maar sjoe, toe hul stoom Saterdag in die laaste tien minute opgeraak het, het die rooi ligte gevaarlik begin flikker.

Leinster sal nie oor sy besluit kla nie, want daar was 82 300 toeskouers op Croke Park (die grootste skare nog by ʼn Kampioenebekerwedstryd). Leinster speel nou boonop in die eindstryd waar die geldkoffers nog verder aangevul sal word.

In die eerste uur was Leinster ʼn lus om te aanskou. Die Iere het die Saints oorheers, hulle was vinniger by die afbreekpunte en het die bal na links en regs geswaai. Met die oud-Bokafrigter Jacques Nienaber se invloed op die verdediging ook nou daar, was hulle van prima gehalte.

Leinster het baie min duikslae gemis en daar was altyd ʼn tweede of selfs derdelinieverdediger om die gate toe te maak.

Wanneer ʼn speler ook ʼn duikslag uitgevoer het, was hy blitsvinnig terug op sy voete.

Maar toe raak Leinster moeg en die Saints veg met mening terug.

In die eerste uur het Leinster gewys hoe Ierland hul man sal staan in die komende reeks van twee toetse teen die Bokke.

In die laaste 20 minute is hul gebreke oopgevlek. Wurg hulle, plaas hulle onder druk, duik hulle agter die voordeellyn en stuur dan die Bomb Squad op om teen ʼn moeë span af te rond.

Dan het enige span, selfs Leinster, voete van klei.

Puntemakers: Leinster 20 (15): Drieë: James Lowe (3). Doelskop: Ross Byrne. Strafdoel: Byrne.

Northampton Saints 17 (3): Drieë: George Hendy, Tom Seabrook. Doelskoppe: Fin Smith (2). Strafdoel: Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.