Morné besing jong spanmaats se lof

Argieffoto van Morné Steyn. Foto: GB Jordaan.

Morné Steyn is tevrede met die Bulls se vertoning in hul eerste Heineken Kampioenebeker-wedstryd teen Lyon in Pretoria.

Die tuisspan – gelaai met jong spelers –  het soos vetgesmeerde blitse weggetrek om binne ʼn oogwink vier drieë te druk, terwyl hulle ook genoeg gedoen het om hul man teen die Fransmanne in die tweede helfte te staan.

Hulle het uiteindelik die aksiebelaaide wedstryd met 42 – 36 op Loftus Versfeld gewen.

“Ons het vooraf vir die ouens gesê dat ons die toernooi op ʼn goeie noot wil begin en ek dink dit is presies wat ons gedoen het,” het die ervare losskakel gesê

Die 38-jarige speler, wat al vantevore Europese sukses saam met Stade Français in 2017 gesmaak het, het egter net soos Jake White gewaarsku dat die reeks nie vir sissies is nie.

“Ons het vir die volle 80 minute op die veld baklei en dit is wat ons met elke wedstryd sal moet doen. Ons speel volgende teen Exeter – dinge gaan beslis nie makliker word nie.”

Hy is egter opgewonde oor wat die spelers in die Bulls-kraal kan vermag.

White het die oë laat rek toe hy ʼn kwansuise “B-span” vir die Lyon-wedstryd gekies het. Vyf van die voorspelers op die plaasvervangersbank het nog nie eens hul 23ste verjaardag gevier nie.

“Ek weet dat baie mense vooraf gedink het dat ons nie ʼn kat se kans staan om die wedstryd te wen nie, maar ek dink dat hierdie spelers in die toekoms onder die groot name kan tel.”

Steyn is miskien amper 40 jaar oud, maar hy beskik steeds oor die vermoë om wedstryde vir sy span te wen. Hy het onlangs immers vir Edinburgh met ʼn strafskop in die 78ste minuut van ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd in Pretoria gesink.

Teen Lyon was hy in die kol met ses doelskoppe.

“In die laaste tien minute het ek so ʼn bietjie met krampe gesukkel, maar dit is seker net hierdie ou bene. Ek is egter trots op die wyse waarop die span aanhou baklei het.”

Die Bulls speel Saterdag weg van die huis teen Exeter. Die aksie begin om 15:00 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.