’n Katgeveg met kortgeknipte naels

Op 37-jarige ouderdom was Ruan Pienaar steeds een van die Cheetahs se beste spelers. Foto: Twitter via Curriebeker.

As jy ooit na die betekenis van “vertoonwedstryd vir opwindende rugby” op die internet soek, is dit te betwyfel of jy ’n direkte verwysing na vandag se Curriebekerstryd op die Mbombela-stadion sal kry.

Ja, die Cheetahs het die Pumas met 28 – 17 geklop, maar dit was beslis ’n katgeveg waar die naels taamlik kortgeknip was.

Die Vrystaters (en die Laevelders) se vertoning kan eerder met die omie af in die straat se stokou motor vergelyk word: Hy sukkel om aan die gang te kom en net wanneer hy ’n bietjie vlamvat, kry hy ’n pap band.

Net so het swak hanteerwerk en baie strafskoppe (die Cheetahs het in die 43ste minuut reeds 12 afgestaan) enige poging vir aanvallende rugby gekniehalter.

Tog kan die besoekers tevrede wees met hul rolmaalbewegings – wat tot ’n drie of twee gelei het – terwyl Frans Steyn oudergewoonte met ’n monsterstrafskop van 58 m in die kol was.

Die Bloemfonteiners verdien ook ’n klop op die skouer vir hul verdediging; selfs al het hulle ’n hele paar strafskoppe afgestaan, het die tuisspan gesukkel om sy pad oor die Cheetahs-doellyn te vind.

Daarteenoor het die Pumas stewig geskrum en Eddie Fouché het met sy skopskoen die telbord aan die gang gehou.

Dan het die Laevelders se kaptein, Willie Engelbrecht, met sy kraglopies beïndruk en hy het ’n keer of wat ’n Vrystaat-speler gestamp dat hy trek.

Ja, die Cheetahs is eerste op die Curriebeker-punteleer, maar Hawies Fourie (afrigter) sal glad nie tevrede met vandag se vertoning op die veld wees nie.

Hulle was baie beter in hul vorige wedstryd teen die Blou Bulle.

  • Puntemakers:

Cheetahs: Drieë: Gideon van der Merwe, Clayton Blommetjies en Louis van der Westhuizen. Doelskoppe: Ruan Pienaar (2). Strafskoppe: Pienaar (2) en Frans Steyn.

Pumas: Drie: Eduan Swart. Strafskoppe: Eddie Fouché (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.