ʼn ‘Perth-ekte’ begin

Die Blitsbokke is tans nog onoorwonne in Perth. (Foto: X/Springbok Sevens)

Wat uitslae betref, geniet die Blitsbokke ʼn goeie aanloop tot die Perth-sewestoernooi. Hulle is onoorwonne ná die eerste dag se spel nadat hulle ʼn kort rukkie gelede vir Spanje met 21–14 geklop het.

Die wedstryd het egter glad nie op ʼn goeie noot vir die Suid-Afrikaners begin nie toe Zain Davids met ʼn geel kaart van die veld afgestuur is omdat hy die bal afgeklap het.

Jaime Manteca het die Blitsbokke onmiddellik vir dié dissiplineblaps laat boet toe hy in die hoek vir ʼn drie oorgeduik het.

Tog kon Ronald Brown en Quewin Nortjé – al twee kere teen die verloop van spel – met driedrukpogings van hul eie terugslaan en teen rustyd het die Blitse ʼn voorsprong van 14–7 geniet.

In die tweede helfte het kaptein Selvyn Davids weer met ʼn gebruiklike zoep-zap-en-zirts-lopie beïndruk, maar die Suid-Afrikaners sal beslis beter moet speel as hulle enige drome het om die silwerware omhoog te hou.

Die ware toets wag immers môre wanneer hulle om 06:38 teen Argentinië speel.

Die vlieënde Argentyne beskik oor die ongekende vermoë om ʼn spul drieë binne ʼn japtrap te druk en hulle kan teenstanders se voete onder hulle uithardloop.

  • Puntemakers:

Blitsbokke: Drieë: Ronald Brown, Quewin Nortjé en Selvyn Davids.

  • Uitslae:

24–7 teen Kanada

21–14 teen Spanje

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.