Oud-Bok Bekker by Bulle

Andries Bekker in sy Springbok-speeldae. (Foto: Stringer/AFP)

Andries Bekker is amptelik deel van die Bloubul-opset. Die voormalige Springbok-slot sal in die hoedanigheid van assistent-afrigter die Pretorianers onder meer met hul lynstane en werk by die afbreekpunte bystaan.

Hy het ʼn kontrak tot Junie 2026 onderteken en hy sal Maandag in die Jakarandastad aanmeld.

“Ons is opgewonde om vir Andries by ons afrigterspan te verwelkom. As oudspeler verstaan hy hoe Suid-Afrikaanse rugby werk en hy is iemand wat aandag aan die fynere detail van die spel gee,” het Edgar Rathbone, uitvoerende hoof van die Blou Bulle-maatskappy (BBM), gesê.

Die 39-jarige Bekker, wat 2,08 m in sy sokkies staan, het Suid-Afrika in 29 toetse verteenwoordig, terwyl hy ook in meer as 100 wedstryde vir die Stormers uitgedraf het.

Hy het ook sy stempel in Japan saam met die Kobe Steelers afgedruk en ná sy speeldae het hy die afrigtersfluitjie by die klub rondgeswaai.

“Ons is besig om ʼn paar veranderinge tot ons afrigtersgroep te maak en ons kyk daarna om versterkings in aanloop tot die nuwe seisoen in te bring. Dit is ons begeerte om die spelers met topgehalte-afrigters te omring wat die beste uit hulle kan haal.”

Die amptelike bevestiging van Bekker se aanstelling volg kort op die nuus dat Russell Winter binnekort met  ʼn nuwe afrigtershoofstuk in Japan begin.

In sy tyd as assistent-afrigter op Loftus Versfeld het Winter ʼn Superrugby Unlocked- en twee Curriebeker-titels saam met die span gevier.

“Dit is nie maklik om te groet nie, maar die Kubota Spears het my die geleentheid gebied om aan my langtermynafrigtersdoelwitte te werk. Loftus is egter ʼn baie spesiale plek en ek is oortuig dat ons paadjies weer in die toekoms sal kruis,” het Winter gesê.

Jake White het ook hulde aan die voormalige Leeus-speler gebring.

“Russell was ongelooflik in sy tyd saam met die span en ek wens hom voorspoed toe. Japan is ʼn wonderlike plek vir rugby en ek weet dat hy ook daar suksesvol sal wees,” het die Wêreldbeker-wenafrigter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.