Program vir sewesreeks bekend

Sandile Ngcobo in aksie (Photo by Renee McKay/Getty Images)

Die Wêreldsewesreeks skop aanstaande maand in Hongkong af en Suid-Afrika en sy nuwe breier se eerste teenstanders is Uruguay.

Die Blitsbok-afrigter Sandile Ngcobo en sy span meet op 4 November met Uruguay kragte op die eerste dag van dié driedaagse toernooi, waarna hulle op Saterdag 5 November teen Engeland en Frankryk speel.

Die uitspeelrondes van die nuwe seisoen se eerste sewestoernooi word op 6 November beslis.

Ngcobo vat hierdie seisoen die eerste keer die Blitsbok-leisels nadat Neil Powell dié span die afgelope dekade gebrei het.

Powell het verlede maand die tuig neergelê om hom by die Sharks as direkteur van rugby aan te sluit.

Australië is die sewesreeks se kampioenspan nadat hy verlede seisoen net-net met Suid-Afrika afgereken het.

Die Aussies het die reeks met 126 teenoor die Blitsbokke se 124 ingepalm danksy hul brons medalje in die seisoen se laaste toernooi in Los Angeles.

Die Aussies het ook die Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika gewen.

 

Die volledige sewesprogram vir die 2022‑’23-seisoen is:

4-6 November: Hongkong

2-3 Desember: Dubai

9-11 Desember: Kaapstad

21-22 Januarie: Hamilton

27-29 Januarie: Sydney

25-26 Februarie: Los Angeles

3-5 Maart: Vancouver

31 Maart-2 April: Hongkong

8-9April: Singapoer

12-14 Mei: Toulouse

20-21 Mei: Londen.

 

Groepe vir Hongkong:

A: Australië, Nieu-Seeland, Samoa, Hongkong

B: Suid-Afrika, Frankryk, Engeland, Uruguay

C: Fidji, VSA, Spanje, Japan

D: Argentinië, Ierland, Kenia, Kanada.

 

Suid-Afrika se Hongkong-bepalings:

4 November: Uruguay

5 November: Engeland, Frankryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.