Seer rug hou Frans op kantlyn

Frans Malherbe. (Foto: Hansie Linde)

Frans Malherbe, die man wat die Springbokke en die Stormers se skrums veilig anker, het sedert die Wêreldrugby-eindstryd nog nie weer vir die Kapenaars uitgedraf nie.

ʼn Rugbesering is die rede vir sy afwesigheid.

“Dit is ʼn vorige besering wat hy waarskynlik by die Wêreldbeker vererger het want ná die toernooi het hy ʼn paar spesialiste kom sien,” Dawie Snyman gesê.

Volgens die Stormers se assistent-afrigter is Malherbe besig met rehabilitasiewerk, maar daar is nog nie ʼn vasgestelde datum vir sy terugkeer nie.

“Hy is egter aan die gang en hopelik kan ons hom weer op die speelveld sien.

Die 32-jarige stut is ongetwyfeld die rots waarop Suid-Afrika se skrumsukses gebou is en hy is saam met Pieter-Steph du Toit, Damian Willemse, Eben Etzebeth en Siya Kolisi vir SA Rugby se speler van die jaar-toekenning benoem.

Malherbe het sy Springbok-buiging in 2013 teen Wallis in Cardiff gemaak en hy het sedertdien in 69 toetse gespeel.

Hy spog ook met twee Wêreldbeker-wennersmedaljes nadat hy in 2019 en 2023 in die Bok-voorry gesak het.

Beserings kniehalter Stormers

Die Stormers speel Saterdag teen die Bulls in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd op die DHL-stadion en verskeie sterre kan die kragmeting misloop.

Benewens Malherbe word ook berig dat die vurige Evan Roos ʼn kakebeenbesering in die Stormers se oorwinning teen La Rochelle opgedoen het.

Daar word verder oor die fiksheid van Ben Loader gesweet nadat die agterspeler sy skouer in die einste wedstryd seergemaak het.

Ben Loader duik oor vir sy drie teen La Rochelle. (Foto: Hansie Linde)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.