Sesnasies: Italië maak pasta van Skotte

(Foto: Guinness Men’s Six Nations/Facebook)

Daar is baie min dinge wat met ʼn spannende rugbywedstryd kan meeding.

Die passie en opwinding, die trane van blydskap en teleurstelling.

Dit was Saterdagmiddag in die Stadio Olimpico in Rome in die Sesnasies-reeks die geval toe Italië die eerste keer in 11 jaar ʼn tuistoets gewen het toe die Azzurri vir Skotland met 31-29 geklop het.

Die Skotte, wat rustyd met 22-16 voor was, het vir die laaste drie minute met mening aangeval en meer as 20 fases afgedwing in ʼn poging om die wendrie te druk. Maar die Italianers se dissipline het gehou, hulle het hul nerwe afgetêkkel en toe die eindfluitjie geblaas het, het hulle mekaar omhels en lank op mekaar gelê en juig.

Die afrigters, die oud-Bolander en voormalige Blou Bul-speler Marius Goosen inkluis, het ook opgespring en mekaar lank omhels.

Die trane het gevloei en dit het gelyk asof Italië die Sesnasies-toernooi gewen het, soveel het die oorwinning beteken.

Onthou jare lank was Italië die slaansakke en die melkkoei van die reeks, jare lank moes hulle met die houtlepel tevrede wees en jare lank was daar sprake dat hulle hul Sesnasies-plek kan afstaan.

Maar nou, ook onlangs toe die losskakel Paolo Garbisi byna met ’n doodsnikstrafdoel teen die Franse geslaag het wat hulle sou laat wen het, het Italië getoon dat hy in die reeks hoort en daar is om te bly.

Daar was ʼn hele paar helde-vertonings, soos dié van die klein, passievolle heelagter Ange Capuozzo wat sy lyf op die spel geplaas het. Dan het die nuweling-vleuel Louis Lynagh (hy is die seun van die oud-Wallaby-losskakel Michael Lynagh) ʼn droomdebuut beleef toe hy ʼn drie gedruk het.

Die ander vleuel, Monty Ioane, het oral opgeduik, die senter Juan Ignacio Brex het ʼn indrukwekkende wedstryd gespeel en die losskakel Paolo Garbisi was die gom van die span.

Voorlangs was die kaptein Michele Lamaro oudergewoonte ʼn yster.

Vir die Skotte is dit ʼn baie groot teleurstelling. Hulle was lank in beheer, het genoeg besit gekry, het gebiedsvoordeel geniet, maar toe het hul dissipline begin uitrafel.

Die makro-vleuel Duhan van der Merwe is in toom gehou en Finn Russell kon nie al die toutjies trek nie.

Soms was hulle te oorgretig en dalk is die Italianers onderskat.

Dit was beslis ʼn baie dure les om te leer.

Puntemakers: Italië 31 (16): Drieë: Juan Ignacio Brex, Louis Lynagh, Stephen Varney. Doelskoppe: Paolo Garbisi (2). Strafdoele: Garbisi (3), Martin Page-Relo.

Skotland 29 (22): Drieë: Zander Fagerson, Kyle Steyn, Pierre Schoeman, Sam Skinner. Doelskoppe: Finn Russel (3). Strafdoel: Russell.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.