Sesnasies se Somerreeks: Junior Bokke gee Engelse bloedneus

Nico Steyn was verantwoordelik vir een van die drieë (Foto: SA Rugby)

Dit gebeur nie aldag nie, maar wanneer ʼn Suid-Afrikaanse rugbyspan die kans kry om Engeland te klop, moet hy dit behoorlik invryf.

Dit het die Junior Bokke Vrydagaand in Verona, Italië, gedoen toe hulle Engeland met 30-22 in die openingswedstryd van die Sesnasies se Somerreeks vir o.20-spanne geklop het.

Die toernooi, wat tussen agt spanne beslis word (die ses Sesnasiespanne, Junior Springbokke en Georgië), gee aan die jong spelers die kans om die spinnerakke af te skud omdat daar nie vanjaar ʼn Wêreldkampioenskap vir 0.20-spanne plaasvind nie en dit eers weer aanstaande jaar hervat word.

Die Junior Bokke ding in die sterkste groep saam met Engeland, Frankryk en Ierland (vanjaar se Sesnasieskampioen vir o.20-spanne) mee. In die ander groep speel Skotland, Wallis, Italië en Georgië.

Die Junior Bokke, wat vanselfsprekend ʼn bietjie roes gehad het om af te skud, het in die eerste helfte teen ʼn sterk wind gepeel en was rustyd met 10-7 voor.

Die Engelse het die wind en hul rolmale goed gebruik, maar die Junior Bokke se selfvertroue het sterk toegeneem en met spelskeppers soos Suleiman Hartzenberg, Donovan Don, Sacha Mngomezulu en Nico Steyn agterlangs aan die spits, het die Junior Bokke vyf drieë teenoor die drie van Engeland gedruk.

Die telling kon veel groter gewees het as Mngomezulu nie swak pale toe geskop het nie en met net twee van sy ses pogings geslaag het.

Nogtans is die grondslag deur die voorspelers gelê waar die voorry van Lamla Nunu, Lukhanyo Vokozela en Corné Weilbach algaande die oorhand gekry het. Dan het die slotte, Connor Evans en Reinhardt Ludwig, ook hul man gestaan en die agtsteman, Cameron Hanekom, het gewoel.

Die Junior Bokke het goed geskrum, hul lynstane beklink en gedryf en nie geskroom om die bal wyd te speel nie, waar hul vlugvoetige agterspelers gedy het.

* In Vrydag se tweede wedstryd het Frankryk sy nederlaag in vanjaar se Sesnasiesreeks vir o.20-spanne teen Ierland gewreek toe die jong Hane met 41-21 gewen het.

Die Junior Bokke speel Dinsdag teen Ierland waarna hulle Frankryk pak.

Punte: Junior Springbokke 30 (10): Drieë: Suleiman Hartzenberg (2), Nico Steyn, Cameron Hanekom, Tiaan Lange. Doelskop: Sacha Mngomezulu. Strafdoel: Mngomezulu.

Engeland 22 (7): Drieë: Ewan Richards, Imeka Ilione, Conor Oresanya. Doelskoppe: Fin Smith (2). Strafdoel: Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.