Sewes in Sydney: Blitsbokke klop Kiwi’s met doodsnikstrafdoel

(Foto:
Springbok Sevens/Twitter)

Die waarde van ’n betroubare stelskopper in enige rugbywedstryd  kan nie genoeg beklemtoon word nie.

Die Blitsbokke het vroeg Saterdagoggend in Sydney die groeprondes van Wêreldrugby se sewestoernooi onoorwonne afgesluit nadat Ricardo Duarttee se korrel reg ingestel was.

Die Blitsbokke het in hul laaste groepwedstryd in Groep B teen Nieu-Seeland met 17-14 gewen nadat Duarttee met ’n strafdoel geslaag het nadat die sirene reeds geloei het om die einde van die wedstryd aan te dui.

Duarttee het vroeër met twee doelskoppe geslaag (een van langs die kantlyn af) om die Blitsbokke na die kwarteindronde te stuur.

Die Blitsbokke, wat twee geel kaarte (Jaiden Barron en Impi Visser) teen die All Blacks gekry het, se verdediging het gehou nadat die Nieu-Seelanders oorgretig was en bottervingers gehad het.

Die Blitsbokke speel Saterdagoggend (11:09) in die kwarteindronde teen Ierland (wat tweede in Groep C geëindig het) met Nieu-Seeland wat Samoa pak.

Die Blitsbokke het Uruguay vroeg Saterdagoggend met 28-12 in hul tweede groepwedstryd geklop.

Die Blitsbokke het Vrydag die toernooi met ’n maklike oorwinning van 31-5 oor Kenia ingelui.

Die Blitsbokke moes sonder hul kaptein, Siviwe Soyizwapi, klaarkom wat las het van ’n skouerbesering. Hy het nie teen Uruguay of Nieu-Seeland gespeel nie en Visser het die span tot twee seges gelei.

* Puntemakers: Suid-Afrika 17 (7): Drieë: Shilton van Wyk, Zain Davids. Doelskoppe: Ricardo Duarttee (2), Strafdoel: Duarttee. Nieu-Seeland 14 (7): Drieë: Joe Webber, Roderick Solo. Doelskoppe: Akuila Rokolisoa (2).

* Uitslae op die tweede dag: Ierland 26, Spanje 0; Samoa 26, Amerika 7; Suid-Afrika 28, Uruguay 12; Nieu-Seeland 33, Kenia 0; Fidji 54, Japan 0; Frankryk 40, Tonga 0; Australië 22, Kanada 0; Brittanje 26, Argentinië; Samoa 35, Spanje 15; Ierland 26, Amerika 0; Tonga 26, Japan 12; Suid-Afrika 17, Nieu-Seeland 14; Fidji 19, Frankryk 14.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.