Sharks Eben-loos teen Toulouse

Eben Etzebeth is een van die Sharks se grootste sterre. (Foto: Romain Perrocheau/AFP.)

Eben Etzebeth het nie voldoende van die skouerbesering herstel wat hy teen Munster opgedoen het nie en sal dus nie Saterdag teen Toulouse uitdraf nie.

Die Sharks speel weg van die huis in die kwarteindstryd van die Kampioenebeker teen die Franse klub.

Luidens berigte is Etzebeth se besering nie te ernstig van aard nie en hy behoort net vir ʼn paar weke langs die kantlyn te wees.

Die Sharks se slotspens is egter bra leeg nadat Emile van Heerden, wat as die Springbok-vuurvreter se plaasvervanger teen Munster in die lynstane gerank het, ook sy skouer seergemaak het.

Daar is nou sprake dat Vincent Tshituka, wat normaalweg as ʼn losvoorspeler diens doen, noodgedwonge die hoed van ʼn slot sal moet dra.

Die opwindende Jaden Hendrikse se skouerbesering is egter van ʼn ernstiger aard en hy kan vir tot tien weke op die krukkelys wees. Hy is dus in ʼn wedloop teen tyd gewikkel om gereed te wees vir Suid-Afrika se eerste internasionale toets van die jaar.

Die Springbokke speel op 8 Julie teen die Wallabies op Loftus Versfeld.

Grant Williams staan intussen gereed om die skrumskakeltrui teen Toulouse te dra.

Oor Saterdag se wedstryd sê Lukhanyo Am die Sharks het genoeg agtergrondkennis opgedoen nadat hulle die Bulls se wedstryd teen die Franse klub bestudeer het.

Die Pretorianers het verlede week met 33 – 9 teen Toulouse vasgeval.

“Ek dink die Bulls het tot die 50ste minuut van die wedstryd hulself goed van hul taak gekwyt, maar hulle het hopeloos te veel strafskoppe afgestaan,” het die Sharks se Springbok-senter gesê.

Volgens Am sal die Durbaniete se vermoë om die strafskoptelling tot ʼn minimum te beperk ʼn deurslaggewende rol in die wedstryd speel.

“Ons sal ʼn gedissiplineerde vertoning moet lewer terwyl ons ook hul geleenthede binne ons halfgebied moet beperk.”

Die Sharks se span word Vrydag aangekondig en die wedstryd begin Saterdag om 16:00. Die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.