Sharks het boerpot met Etzebeth geslaan

Eben Etzebeth. (Foto: David Ritchie/ANA)

Die Sharks het nie om dowe neute die Springbokslot Eben Etzebeth tot in 2027 vasgeknoop nie, want dis ʼn langtermyn-belegging wat eers ná ʼn paar jaar ongekende groei sal toon.

Etzebeth (30) was tot in 2023 by Toulon in Frankryk gekontrakteer, maar hy val reeds in Julie by Kingspark in.

Toulon se president, Bernard Lemaitre, het vroeër vanjaar gekla dat Etzebeth hulle te veel geld uit die sak jaag, hy boonop lank beseer was en sy nasionale verpligtinge hom maande lank onbeskikbaar gemaak het.

Lemaitre is reg, maar het die klub dit nie vooraf geweet toe Etzebeth destyds na Frankryk gelok is nie? Hy is immers die gom wat die Springbokpak aanmekaar hou; hy behoort Wêreldrugby se Speler van die Jaar te gewees het as daar behoorlik huiswerk gedoen is; hy is die speler na wie duisende ander smag.

Etzebeth gaan ʼn baie groot rol by die Sharks speel, want afgesien van sy vaardighede op die veld, sal hy en die rits ander Springbokke baie waarde tot die Sharks voeg. Die Sharks is van die veld af beslis die voorloper in Suid-Afrikaanse rugby met hul bemarking en hoe hulle na die gemeenskap en ondersteuners uitreik.

En nou het hulle nog goud raakgeboor!

Etzebeth se waarde sal eers ná die Wêreldbekertoernooi in 2023 in Frankryk (8 September tot 28 Oktober) goue status bereik.

Tot dan sal Etzebeth maande lank saam met die Springbokke voorberei en nie altyd beskikbaar wees nie.

Onthou dat die Springbokke in Julie vanjaar in ʼn reeks van drie toetse teen Wallis speel, steeds in die Rugbykampioenskappe teen die All Blacks, Wallabies en Argentynse Poemas meeding en in November deur Europa toer waar die Bokke teen Italië, Ierland, Frankryk en Engeland speel.

Volgende jaar is dit boonop Wêreldbekerjaar waar die Bokke maande lank tereg in watte toegedraai sal word.

Maar die Sharks sal van die begin af die vrugte pluk, want ander spanne sal wêreldwyd nie daarvan droom om Etzebeth saam met ander Bokke soos Thomas du Toit, Oxe Nchu, Siya Kolisi, Bongi Mbonambi, Sikhumbuzo Notshe, Lukhanyo Am, Sbu Nkosi, Makazole Mapimpi, Aphelele Fassi en Jaden Hendrikse onder een dak te hê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.