Sharks stamp die Dragons uit hul pad

(Foto: Dragons RFC/Facebook)

Die weer was goor, die wind het gewaai en dit het Sondagaand op Rodney Parade in Newport gereën toe die Sharks teen die Dragons in die Europese Uitdaagbekerreeks uitgedraf het.

In sulke toestande sal taktiese skoppers gedy, want hulle het die vermoë om hul teenstanders onder druk te hou en in hul eie gebied vas te pen.

Die Sharks het staatgemaak op die linkervoet van die heelagter Aphelele Fassi en die regtervoet van die losskakel Curwin Bosch om met lang skoppe (soms ʼn bietjie doelloos soos in byna elke ander wedstryd) om dryfinkies te speel.

Soms het dit vrugte afgewerp, maar die Sharks moes tot in die tweede helfte wag voordat hulle ʼn oorwinning van 29-9 met vyf drieë oor die Dragons verseël het.

Dit bly ʼn raaisel waarom dit die talentvolle Sharks, met 11 Springbokke en ʼn Blitsbok in hul groep van 23 spelers, 30 minute geneem het om aan te skakel, om na ʼn hoër rat oor te skakel.

Dit kon ook heel anders verloop het as die televisieskeidsregter nie die drie wat die Dragons se vleuel Jared Rosser kort ná die begin gedruk het, gekanselleer het nie. Dit was sewe punte in die sakkie en kon die tuisspan aangespoor het.

Vir die Sharks, wat ʼn nagmerrieseisoen beleef wat uitslae betref, was hul vierde oorwinning dié seisoen broodnodig en baie welkom.

Daar was ʼn hele paar ligpunte, soos die impak wat die plaasvervangerskrumskakel Grant Williams gemaak het, Werner Kok wat nooit opgegee het nie en Fassi en Bosch wat die bal baie ver gesool het.

Voorlangs was die Sharks se voorry, bestaande uit Hanro Jacobs, Fez Mbata en Ox Nche, verwoestend.

Hulle het ʼn magdom strafskoppe afgedwing omdat die Dragons se voorry geswig het.

Dan het Gerbrandt Grobler, wat as speler van die wedstryd aangewys is, en Corné Rahl goeie besit in die lynstane verseker en het Pepsi Buthelezi en Lappies Labuschagne ook in die los gewoel.

Puntemakers:

Sharks 29 (12): Drieë: Jaden Hendrikse, Ox Nche, Gerbrandt Grobler, Le Roux Roets, Werner Kok, Doelskoppe: Curwin Bosch (2).

Dragons 9 (6): Strafdoele: Cai Evans (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.